Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die regering is in gesprek met die Franse Ontwikkelingsbank oor ‘n lening van meer as ses-miljard-rand, sowel as ‘n verdere lening van BRICS se Nuwe Ontwikkelingsbank. Dit is bykomend tot die bestaande Wêreldbank-lening van 27-miljard-rand. Die fondse is deel van die begroting wat die regering oor die volgende drie jaar moet dra.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor ‘n Suid-Afrikaner in Doha, Katar, Mariëtte Oelofse se skrikwekkende ervaring toe Iran ‘n missielaanval op ‘n plaaslike Amerikaanse lugmagbasis uitgevoer het. Iran het vroeër gesê hy gaan vergeldingsaanvalle teen die VSA uitvoer.
Tweedens verskaf die webblad ‘n oorsig oor die konflik in die Midde-Ooste met gereelde plasings van gebeure op ‘n tydlyn.
En laastens word berig die 22-jarige Johan Erasmus is die naweek dood in ‘n fratsongeluk by ‘n myn in Douglas.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf eerstens ook oor Iran se aanval in Katar.
Tweedens word berig die MK-party het ook gevra vir die bedanking van die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane. Die party sê sy is nie geskik om die pos te beklee nie.
En laastens skryf die koerant die sogenaamde bloulig-bedrogsaak teen die voormalige waarnemende kommissaris van polisie, Kgomotso Phahlane en die sakeman, Vimpie Phineas Manthata het in chaos ontaard toe die staat nie ‘n klagstaat kon voorsien nie. Die verdediging eis dat alle aanklagte onmiddellik teruggetrek word.
# Sowetan:
Berig die families van Samkelo France en Molefe Mtombeni wat in ‘n stormwatersloot in Ekurhuleni verdrink het, sê die metro moet verantwoordelikheid aanvaar omdat hulle nie ‘n heining herstel het nie. Die metro sê daar bestaan ‘n kultuur van infrastruktuurbeskadiging wat gestaak moet word.
# En The Citizen:
Skryf oor die Wolfaardt-gesin van Welverdiend in Carletonville wat deur die Pakistani-spazawinkeleienaars in die gebied gekeer is om hulle eie supermark te open. Die koerant berig daar is selfs op die Wolfaardts geskiet.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die wedervaringe van Mariëtte Oelofse in Doha.
Dan berig die koerant Suid-Afrika is onder die top tien veiligste plekke in die wêreld indien ‘n Derde Wêreldoorlog sou uitbreek.
En laastens is daar nuus oor twee mense wat in die hospitaal beland het nadat hulle lekkers geëet het wat op straat in Belville uitgedeel is. Die lekkergoed het glo dagga en tik in.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die tugsaak teen die geskorste stadsbestuurder van Nelson Mandelabaai, Noxolo Nqwazi het die munisipaliteit meer as 800-duisend-rand aan regskoste gekos.
En tweedens skryf die koerant oor die voortslepende geskil tussen ‘n groot kerk en ‘n laerskool in New Brighton oor die besetting van ‘n gebou.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor Iran en die vergeldingsaanvalle wat uitgevoer word.
En berig ‘n 56-jarige man is dood nadat hy Saterdag deur ‘n krokodil by ‘n wildreservaat in Hluhluwe aangeval is. Die voorval het by ‘n dam in die Bonamanzi-wildreservaat plaasgevind.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig volgens die ouditeur-generaal, Junias Kandjeke is daar beduidende tekortkominge by Namibië se goudmyne. Hy sê dit sluit in gapings in bewyse van grondeienaarskap en swak toesig by die myne.
En tweedens skryf die koerant die regering is vasbeslote om die invoer van vars groente te verminder, ongebruikte landbougrond te benut en meer jongmense by die landbousektor te betrek.