Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die staatsbeheerde wapen- en lugvaartvervaardiger, Denel het na bykans ‘n dekade ‘n ongeouditeerde wins na belasting van 223-miljoen-rand in die 2024/25-boekjaar aangeteken, teenoor ‘n verlies van 550-miljoen-rand die vorige jaar. Die uitvoerende hoof, Tsepo Monaheng het aan die Parlement gesê dis vroeër as wat verwag is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die nuus van die dag: Die VSA se aanval op Iran se kernprogram. Die webblad skryf die wêreld hou asem op om te sien hoe Iran gaan reageer. Die skade wat deur die Amerikaanse bunkerbreker-bomme aangerig is, is so groot dit kan selfs uit die ruimte gesien word.
Tweedens word berig oor ‘n konvooi van honderde voertuie in Kaapstad ter ondersteuning van Palestynse burgers.
En laastens skryf die blad adjunkpresident Paul Mashatile het sy amptelike besoek aan Rusland afgesluit en sê dit was ‘n groot sukses.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf namate spanning tussen Jode en Moslems wêreldwyd toeneem, het ‘n unieke inisiatief in Suid-Afrika ontstaan. ‘n Groep onder leiding van Imran Makama van Vriende van Israel en Ibrahim Qasim van die Internasionale Demokratiese Vereniging beywer hulle vir vrede tussen Joodse en Moslem-gemeenskappe in die land.
En tweedens word berig die omstrede MK-partylid, Floyd Shivambu sê hy het oorweldigende steun van Suid-Afrikaners ontvang wat gretig is om as vrywilligers vir sy nuwe beweging te registreer.
# Sowetan:
Berig daar is meer as 700 polisievoertuie in Gauteng wat buite werking is. Volgens die Tshwane-metroraad maak al hoe meer mense op privaat sekerheidsmaatskappye staat vir polisiëring.
# En The Citizen:
Skryf Suid-Afrikaanse verbruikers verloor daagliks nagenoeg ‘n miljoen rand deur bedrog deur Suid-Afrikaanse finansiële instellings. Dit is volgens ‘n verslag van die Nasionale Finansiële Ombudskema wat 35-duisend-855 klagtes ondersoek het en bykans 300-miljoen-rand van versekeringsmaatskappye verhaal het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die aanval op Iran.
Dan berig die koerant oor die terugkeer van die twee Suid-Afrikaanse ingenieurs, wat sedert 9 Februarie 2023 onwettig in Ekwatoriaal-Guinee aangehou is, Frik Potgieter en Peter Huxham. Die mans se familie sê die Suid-Afrikaanse regering was aktief betrokke by hul vrylating.
En laastens is daar nuus oor ‘n bobbejaan wat die strate van Claremont ingevaar het en na twee dae eers gevang is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig honderde inwoners van die Oos-Kaap het geld verloor na die ineenstorting van die Gqeberha-beleggingsonderneming, Growing Asset.
En tweedens skryf die koerant die bestuur van OP-rugby sal vandag vergader oor die tragiese gebeure Saterdag in Kariega toe ‘n ondersteuner na ‘n wedstryd tussen Gardens en Progress doodgeskiet is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die ANC in KwaZulu-Natal het ‘n nuwe leierskorps aan die stuur.
En tweedens berig die koerant ook oor die VSA se aanval op Iran se kernprogram.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente kon aan die einde van sy 2024-boekjaar net minder as een-persent van die totale studenteskuld herwin.
Dan skryf die koerant onhigiëniese boupersele in ‘n woonbuurt in Windhoek, Auasblick, hou ‘n omgewingsbedreiging vir twee boorgate in die gebied in.
En laastens word berig die eerste Namibiër wat ‘n opnamekontrak met ATKV-Crescendo se mentorskapprogram losgeslaan het, Salvador Mouers, sê dit is ‘n groot eer en verantwoordelikheid.