Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die eksplorasiemaatskappy Impact Oil and Gas wat gedeeltelik besit word deur die JSE-genoteerde Hosken Consolidated Investments, het ‘n ooreenkoms met TotalEnergies aangegaan, om die helfte van sy belang in twee Namibiese diepsee-olievelde te behou.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig terwyl Suid-Afrika se regspan wat die saak teen Israel gelei het soos helde by die OR Tambo-lughawe terug verwelkom is, waarsku kenners die optrede mag die land van Westerse lande vervreem en ‘n uitwerking hê op handel.
Tweedens skryf die koerant hoewel die Cheetahs nie daarin kon slaag om hul wedstryd teen die Franse span Pau in Geuzenveld, Nederland te wen nie, het dit nie aan ondersteuning ontbreek nie.
En laastens word berig oor die beurtkragvooruitsigte vir die week.
# The Star en Pretoria News:
Skryf president Cyril Ramaphosa het die afgelope naweek tydens die ANC se verjaarsdagviering niks gerep oor Phala Phala of die aantygings dat banke die rand gemanipuleer het nie.
En tweedens publiseer die koerant ‘n reeks veiligheidsreëls vir leerders wat terugkeer skool toe.
# Sowetan:
Berig dit is ‘n nuwe skooljaar met al dieselfde probleme weens ‘n gebrek aan infrastruktuur wat voortduur. Die Gautengse regering sê dit gaan 15 jaar en 40-miljard-rand neem om die agterstand in te haal.
# En The Citizen:
Lei met: “SCHOOLS BREAK PARENTS’ BANK”. Die koerant skryf oor die reusekoste om ‘n kind vanjaar terug te stuur skool toe.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die onmenslike behandeling wat Janine Harris tydens die geboorte van haar kind by die Pelomoni-hospitaal in Bloemfontein ontvang het, het daartoe gelei dat die LUR vir Gesondheid in die Vrystaat, Nompumelelo Gusha deur die Hooggeregshof beveel is om vyf-miljoen-rand skadevergoeding te betaal.
Dan skryf die koerant meer as twee-miljard-rand gaan in 2024 aan die verbetering van die paaie in die Vrystaat en Noord-Kaap bestee word.
En laastens is daar ook nuus oor die Cheetahs se stryd in Nederland.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die skielike dood van ‘n Suid-Afrikaanse onderwyser in Dubai, die 23-jarige Cara Hartzenberg van Worcester. Sy het in haar klaskamer inmekaargesak en is vermoedelik aan ‘n bloedklont oorlede.
Dan word berig honderde laat skoolaansoeke in die Wes-Kaap is nog nie geplaas nie.
En laastens is daar nuus oor die warm weer wat vir die Wes-Kaap voorspel word met donderbuie in die Oos-Kaap.
# En Cape Times:
Skryf Krieket SA het ‘n plaasvervanger vir die O/19-wêreldbekerkaptein, David Teeger aangewys na sy uitlatings oor Israel.
En berig studente wat uitgelaat is deur die NSFAS-befondsing is verheug oor die fonds wat die regering geskep het om hulle te help.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die sogenaamde vlaag van geweld in Nelson Mandelabaai het sedert Vrydag die lewens van nog minstens ses mense geëis. Die slagoffers sluit in ‘n gerespekteerde kerkleier van die noordelike gebied, ‘n man wat in sy huis vermoor is nadat hy oënskynlik met iemand anders verwar is, en ‘n man wat in sy motor by ‘n Humerail-winkelsentrum doodgeskiet is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf soos The Star en Pretoria News oor Ramaphosa se stilswye oor belangrike kwessies.
En berig die Menseregtekommissie het versoek dat alle skoolklerepryse vasgestel moet word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië het Duitsland gekritiseer omdat hy besluit het om Israel by die Wêreldhof te ondersteun.
En skryf die Namibiese diplomaat, Peter Haufiku, wie se eksvrou, Kristofina Amutenya, byna drie jaar gelede na bewering hul twee kinders in Ethiopië vermoor het, sê hy vrees vir sy lewe.