Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor ‘n voorgestelde wetsontwerp waarvolgens die regsbank betrek word by die aanstelling van die rade van staatsondernemings. Die doel is om die proses te depolitiseer.
# En, Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die Fikile Mbalula-fiasko in die ANC en die party wat skynbaar glad nie gepla is met die stelling dat daar gejok is oor Nkandla se swembad nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan Suid-Afrika se saak teen Israel by die Wêreldhof in Den Haag. Die koerant berig volgens kenners staan Israel nou met sy rug teen die muur wanneer hy vandag sy saak stel.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Suid-Afrika het ‘n uitsonderlike saak gestel by die Wêreldhof.
En berig die ANC het die afgelope 30 jaar geen verandering of groei getoon nie.
# Sowetan:
Lei met: “YOU CAN’T JUSTIFY GENOCIDE”. Die koerant berig dit was die sentrale tema van Suid-Afrika se saak in Den Haag.
# En The Citizen:
Skryf Israel het na aanleiding van Suid-Afrika se saak in die Internasionale Geregshof die land beskryf as “Hamas se regsafdeling” en die “grootste vorm van skynheiligheid in wêreldgeskiedenis”.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die Wêreldhofsaak in Den Haag. Volgens kenners is dit nie Suid-Afrika wat die saak aanvoer nie, maar eerder die ANC.
En tweedens word berig oor ‘n Bloemfonteinse inwoner, die 68-jarige Gerda Pretorius wat die 31-miljoenste passasier van die Tafelberg-kabelkar was.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad.
En tweedens word berig oor opposisiepartye se kommer oor die diefstal van vuurwapens by die polisie. Die afgelope boekjaar is meer as een-duisend-700 wapens gesteel.
# En Cape Times:
Skryf al die terugslae wat die ANC beleef het, bepaal die nalatenskap van president Cyril Ramaphosa.
En berig meer as drie-duisend kilometer spoorlyn is verlate gelaat.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig ook oor Suid-Afrika se saak in Den Haag.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die voormalige Ukhozi FM-aanbieder, Ngizwe Mchunu wat gesê het hy sal nie toelaat dat die EFF-leier Julius Malema ‘n veldtog in sy tuisprovinsie, KwaZulu-Natal voer nie, is gewaarsku om sy opmerkings in toom te hou.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die kanaal wat water vanaf die ou Berg Aukas-myn na die Omatakodam vervoer, is sedert verlede Vrydag droog en talle boere langs die kanaal is raadop.
En tweedens skryf die koerant die man wat van die moord op ’n 64-jarige vrou van Rehoboth beskuldig word, die 29-jarige Romario Beukes, is borgtog geweier. Dit het aan die lig gekom dat Beukes ten tyde van die voorval op borgtog was vir ’n ander beweerde moord.