Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa besoek die week die VSA vir ‘n vergadering met die Amerikaanse president Donald Trump in ‘n diplomatieke gesprek met hoë risiko’s. Hul vergadering sal na verwagting die weg baan vir ‘n reeks bilaterale handelsooreenkomste in verskeie sektore, insluitend landbou, energie en vervoer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig steun stroom van oral in vir oudpresident Joe Biden wat met prostaatkanker gediagnoseer is.
Dan skryf die webblad die leier van die Vryheidsfront Plus, Corné Mulder sê Ramaphosa maak ‘n fout as hy dink hy gaan Trump met ‘n rooskleurige prentjie oor Suid-Afrika flous.
En laastens is daar nuus oor die omstrede Nigeriese pastoor Timothy Omotoso wat vir vyf jaar uit Suid-Afrika verban is en die land gister verlaat het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die Mantashe-familie is weer in die soeklig na onthullings dat die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe se seun Buyambo, is aangestel op die SETA-rade. Die stap is deur opposisiepartye bevraagteken ten opsigte van die deursigtigheid van die aanstellingsproses.
En tweedens skryf die koerant die minister van Landbou en DA-leier John Steenhuisen vergesel Ramaphosa na die VSA om AGOA te probeer red.
# Sowetan:
Lei met: “A MONUMENT OF BROKEN PROMISES”. Die koerant berig oor die Tembisa-behuisingsprojek in Ekurhuleni wat nou verlate lê. Die eenhede word gevandaliseer en een kontrakteur moes sy werkers aflê en sit nou met skuld van 90-duisend-rand wat hy nie kan verhaal nie.
# En The Citizen:
Skryf die bestuurshoof van AfriForum, Kallie Kriel sê Ramaphosa moet vir Trump sê hy veroordeel die Kill-the-boer-liedjie, maar volgens Kriel sal die president net ontken en nogmaals ontken.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oudminister Roelf Meyer sê Ramaphosa sal sy man kan staan teen Trump. Hy sê Ramaphosa het wêreldstatuur en is opgewasse om sy standpunt te stel.
En tweedens skryf die koerant oor die dood van die 34-jarige Ivan Vosloo in ‘n motorfietsongeluk naby Gqeberha. Hy is die broer van Johan Vosloo wat in 2020 saam met sy verloofde in die stort van ‘n gastehuis naby Kareedouw dood aangetref is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n voormalige raadslid van die Nelson Mandelabaai-metro en sy broer kan strafregtelik aangekla word vir die beweerde misbruik van munisipale infrastruktuur en onwettige gebruik en vervoer van water.
En tweedens skryf die koerant die Patriotic Alliance het op die Oos-Kaap as vertrekpunt besluit vir die plaaslike regeringsverkiesing in 2026.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Suid-Afrika is in afwagting op die Ramaphosa-Trump-gesprek.
En berig oor die Umlazi-slagting. Agt mense is die naweek in dié township doodgeskiet en daar kon nog nie ‘n motief vasgestel word nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Maria Alweendo dagvaar die staat vir 10-miljoen-rand ná die dood van haar 16-jarige seun wat onder psigiatriese sorg in die Oshakati-staatshospitaal was.
Dan skryf die koerant ‘n beloning van 160-duisend-rand is uitgeloof aan enigiemand met inligting wat kan help om die stropers van ‘n witrenosterkoei in die Hardap-streek vas te trek.
En laastens is daar nuus oor drie jong Namibiese modelle, Janine Esterhuizen, Mia Coetzee en Louwrens van Zyl wat internasionale kontrakte met agentskappe in Japan en Indië losgeslaan het.