Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Mededingingskommissie se saak teen 23 banke oor die beweerde manupulering van die rand het in duie gestort. Die Mededingingsappèlhof het die kommissie veroordeel omdat hy nie daarin kon slaag om bewyse te lewer nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig volgens kenners gaan Suid-Afrika met moeite daarin kan slaag om sy saak teen Israel in die Internasionale Geregshof te bewys. ‘n Uitspraak teen Israel sal moontlik ook nie tot ‘n skietstilstand lei nie.
Dan skryf die koerant die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande het geen planne om te bedank nie. Die bewerings van bedrog teen hom is as kwaadwillig bestempel.
En laastens is daar nuus oor die Cheetahs wat Saterdag in Amsterdam in hul oranje truie gaan uitdraf teen die Franse span Pau.
# The Star en Pretoria News:
Skryf president Cyril Ramaphosa sê daar is geen kans dat die ANC die mag gaan afstaan in vanjaar se algemene verkiesing nie.
En berig ook Blade Nzimande sê hy het niks om weg te steek nie.
# En The Citizen:
Lei met: “WE LIED FOR JACOB ZUMA”. Die koerant skryf die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula se erkenning dat die party in die Parlement gejok het om die oudpresident te beskerm gaan negatiewe gevolge vir die ANC inhou.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die twee verdagtes wat in die Bloemfontein-landdroshof verskyn het in verband met die moord op die 16-jarige Machaka Radebe van die Brebner High School.
Dan skryf die koerant ook oor die Cheetahs se voorgenome kragmeting in Amsterdam.
En laastens is daar nuus oor die inwoners van Theunissen wat gister betoog het omdat hulle reeds 26 dae sonder water sit.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die ANC se erkenning oor Nkandla en die negatiewe reaksie wat dit uitlok.
En tweedens berig die koerant dit sal nagenoeg 500-miljoen-rand kos om die Shelley Point-hotel in St Helenabaai te herbou nadat dit in ‘n brand verwoes is.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die uitlatings van Fikile Mbalula oor die ANC se hantering van die Nkandla-bewerings teen Jacob Zuma.
En berig ook oor Blade Nzimande.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig twee paramedici van Nelson Mandelabaai is die naweek met ‘n vuurwapen gedreig en beroof terwyl hulle ‘n pasiënt in ‘n ambulans in Despatch behandel het.
En tweedens skryf die koerant ‘n uitstappie by ‘n openbare swembad in Gqeberha het in ‘n nagmerrie ontaard toe ‘n man in ‘n fratsongeluk dood is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ook oor Fikile Mbalula se uitlatings.
En het nuus oor die voormalige ANC-burgemeester van die Mkhondo-munisipaliteit, Vusi Motha wat by Zuma se MK-party aangesluit het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig president Hage Geingob se termyn loop vanjaar ten einde en daar is nuwe parlementslede wat verkies moet word. Die Verkiesingskommissie van Namibië is tans besig om reëlings te tref en ‘n nuwe leier aan te stel.
Dan skryf die koerant die nuwe jaar is met reënbuie begroet in verskeie dele van die land en die Namibiese weerkantoor voorspel dat nóg reën op pad is.
En laastens is daar nuus oor die Namibiër, Katja Pieters wat deelneem aan die Suid-Afrikaanse sanger Brendan Peyper se realiteitsprogram op kykNET.