Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi het die regering se vertraagde instelling van die Gesondheidsmarkondersoek se aanbevelings verdedig. Hy sê dit is deur die Covid-19-pandemie en begrotingsbeperkings aan bande gelê.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die instelling van fase 2-beurtkrag van vyf-uur vanoggend af.
Dan skryf die webblad die sekuriteitswag wat van diefstal aangekla is in die Jesse Mitchell-moordsaak het ‘n pleitooreenkoms aanvaar en ‘n opgeskorte vonnis ontvang. Cornelius Kruger het die vermoorde Matie-student se eiendom onregmatig verkoop.
En laastens is daar nuus oor die provinsiale rede van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi waarin hy die provinsie se vernaamste uitdagings uitgestippel het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf ten spyte daarvan dat hy in ‘n voortdurende stryd met die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula gewikkel is en interne spanning in die ANC, het Panyaza Lesufi as vasberade leier van die provinsie opgetree tydens sy provinsiale rede gister.
# Sowetan:
Berig ‘n lasbrief is uitgereik vir ‘n vermeende onwettige goudhandelaar, Bethuel Ngobeni nadat hy nie sy borgvoorwaardes nagekom het nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag is omgekrap oor hy borgtog ontvang het.
# En The Citizen:
Skryf kenners stem saam met die SANW se geneesheer-generaal, luitenant-generaal Ntshavheni Maphaha, wat die regering beskuldig het dat hy ‘n Mickey Muis-weermag bedryf.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die tribunaal van die Regterlike Dienskommissie wat verskeie aanklagte teen die geskorste regter Mushtak Parker ondersoek. Die aanklagte hou verband met beweerde seksuele teistering en ‘n beweerde tekort aan trustfondse by Parker se prokureursfirma.
En tweedens skryf die koerant ‘n Zimbabwiese vrou van Du Noon het geboorte geskenk langs haar sterwende man wat beroof en met ‘n mes gesteek is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n Oos-Kaapse man is in hegtenis geneem nadat hy ‘n opname van homself versprei het waarin hy swart Suid-Afrikaners beledig het. Hy het ook die k-woord teenoor Julius Malema gebruik.
En tweedens skryf die koerant die geskorste onderburgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk verdien steeds sy volle salaris.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die ouditeur-generaal het die Msunduzi-munisipaliteit by die Parlement gerapporteer.
En tweedens skryf die koerant die begrotingskrisis oor BTW is deur die kabinet bespreek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig lede in Swapo se binnekringe meen die aangewese president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het nog niks oor haar naderende kabinetsaanstellings verklap nie.
Dan skryf die koerant inwoners van Grootfontein en omliggende gebiede het by die Omulunga-stadion bymekaargekom om hul laaste eer aan die ontslape stigterspresident, Sam Nujoma, te betoon.
En laastens word berig die Omaruru Boerevereniging het vir die eerste keer in meer as 100 jaar sy grondwet ’n moderne baadjie aangetrek om meer prakties en inklusief te wees en om sy huidige werklikheid te weerspieël.