Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Januarie 2024:
GAUTENG:
# Beeld:
Berig meer as 33-duisend staatsamptenare ontvang maatskaplike toelaes onder valse voorwendsels. Daar bestaan twyfel of daar teen hulle opgetree gaan word.
Dan skryf die koerant oor die hofverskyning van Pardon Danhire vir die moord op Nadine Terblanche en haar negejarige seun Ruandré in November. Danhire was Terblanche se tuinier.
En laastens is daar nuus oor die 71-jarige Louis Zeelie van Colesberg se noue ontkomning toe ‘n trop leeus hom ingewag het by ‘n toilet in die Kgalagadi-oorgrenspark.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oor die vrylating van Oscar Pistorius môre.
En berig oudpresident Jacob Zuma sê sy party gaan beurtkrag beëindig.
# En The Citizen:
Berig Sars se statistiek dui nie op die ware toedrag van sake nie. Hoewel die insameling van belasting met 7,8-persent gegroei het, verlaat al hoe meer belastingbetalers die land.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die moord op die 18-jarige Hesty-Ann Green van Brandvlei in die Noord-Kaap op Oujaarsaand. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die voorval met dwelmsindikate verband hou.
En tweedens skryf die koerant ook oor Louis Zeelie van Colesberg se leeu-ontmoeting.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die verwoesting van die Shelley Point-hotel naby St Helenabaai. Die eienaars sê die gebou is onvervangbaar en sowat 130 personeellede kan hul werk verloor.
En tweedens skryf die koerant oor die bloedige warm weer wat dié week vir die Wes-Kaap voorspel word.
# En Cape Times:
Skryf Turkye steun Suid-Afrika se aanklag teen Israel by die Internasionale Geregshof.
En berig oor die eerste dag van die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië op Nuweland.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig onregmatige optrede deur Oos-Kaapse polisielede kan die staat uiteindelik tot 7,5-miljard-rand aan siviele eise kos. Sowat vier-duisend-349 sake is nog hangende.
En tweedens skryf die koerant oor die skokdood van ‘n munisipale elektrisiën terwyl hy besig was met herstelwerk.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ook Zuma se MK-party het onderneem om beurtkrag te beëindig en brandstofkoste te sny.
Dan word berig oor die talle probleemgevalle wat die DBV moet hanteer ná die afvuur van vuurwerke oor Nuwejaar.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die woordvoerder van die Namibiese regbank, Vikitoria Hango het bevestig advokaat Philanda Christiaan is as regter van die Hoërhof aangestel. Dit volg ná die Regterlike Dienskommissie se openbare onderhoude op 8 Desember.
En tweedens is daar nuus oor Gabi Serrer se sakeonderneming, GreenPlanet Gardening wat kompos uit herwinbare materiaal in Namibië gemaak.