Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die afwesigheid van senior Amerikaanse diplomate het nie die G20-vergaderings van ministers van Buitelandse Sake ontspoor nie. Die leiers van die wêreld se grootste ekonomieë het Suid-Afrika se voorgestelde werkmetodes aanvaar wat die foute in die huidige geopolitieke klimaat uitwys.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig helikopters is die naweek ingespan om kospakkies en medisyne vir die inwoners van Thabazimbi af te lewer wat weens die oorstromings afgesny is. Dit volg nadat die Krokodilrivier sy walle oorstroom het.
Intussen word berig die dodetal weens die oorstromings in KwaZulu-Natal het tot nege gestyg.
Vervolgens skryf die webblad oor die brande op Tafelberg en elders in die Wes-Kaap.
En laastens is daar nuus oor die moontlikheid dat beurtkrag die komende week gestaak gaan word.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf politieke en ekonomiese ontleders het Eskom se aankondiging van fase 6-beurtkrag as ‘n slag vir die regering van nasionale eenheid en ‘n krisis vir die ekonomie beskryf.
En berig ‘n ontevrede Noordwes-ANC-lid, Sello Molefe, gaan regstappe teen die Nasionale Vervolgingsgesag doen oor sy besluit om te weier om adjunkpresident Paul Mashatile te vervolg vir bedrog, vervalsing en meineed.
# Sowetan:
Berig die regspraktykliggaam wil hê ‘n prokureur, Nonhle Nkomonde wat 27 klagtes in die gesig staar, insluitend die misbruik van ‘n oorlede kliënt se fondse om eiendom te koop, moet van die rol geskrap word.
# En The Citizen:
Lei met: “WHY THE LOAD-SHEDDING SHOCK?” Die koerant skryf hoewel Eskom beweer hy is besig met ‘n intensiewe instandhouding, lyk dit eerder of die kragvoorsiener onverhoeds betrap is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die voorgesette stryd teen die veldbrande in die Wes-Kaap.
En skryf die Departement van Basiese Onderwys het ontken dat ‘n graad 13 in die vooruitsig gestel word. Dit volg nadat fopnuus hieroor op Instagram versprei is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig navorsing om die bestaan en hoeveelhede skaliegasneerslae in die Oos-Kaap te bevestig, sal in Maart begin Dit is ‘n beduidende stap met die oog op betroubare energievoorsiening.
En tweedens skryf die koerant terwyl die moordsaak van Vicki Terblanche nou reeds vir byna vier jaar voortsleep, is daar min steun vir die familie en vriende van die slagoffer van geslagsgeweld.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf verkeersbeamptes in Pietermaritzburg sal voortaan ook op nagskofte ontplooi word.
En berig die munisipaliteit gaan sekerheidswagte aanstel om die stad se watervoorraad op te pas.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese regering is druk besig om reëlings te tref ter voorbereiding van die verwagte aankoms van verskeie staatshoofde en belangrike buitelandse leiers vir die naweek se staatsbegrafnis van Sam Nujoma.
Tweedens skryf die koerant 15 jaar ná die aanvang van die Trans-Kalahari-spoorwegprojek het dit nog steeds net ‘n kantoor in Windhoek.
En laastens word berig Fact Check se redakteur, Frederico Links, sê ‘n akademiese voorvereiste moet vasgestel word vir aspirant-politici om hul amp te beklee.