Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe sê Suid-Afrika kan hom tot Rusland of Iran wend om sy kernkragvermoë uit te brei. Ontleders sê die standpunt kan die breuk met die VSA verdiep en die hernuwing van ‘n strategiese energieverdrag verder vertraag.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n 35-jarige pa van Durbanville wat sy tweejarige seuntjie na bewering met ‘n mes gesteek het, is sonder die medewete van die kind se ma op borgtog van twee-duisend-rand vrygelaat.
Dan skryf die webblad die Dennedorp-rugbykoshuis van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gaan na die Springbok-kaptein, Siya Kolisi vernoem word.
En laastens word berig die Maties het die Shimlas in hul eerste Varsitybeker-wedstryd van die seisoen met 41-37 getroef.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die MK-party het oudpresident Thabo Mbeki uitgedaag tot ‘n debat oor sy bewerings dat oudpresident Jacob Zuma ‘n spioen vir die apartheidsregering was tydens sy gevangenisskap op Robben-eiland.
En tweedens berig die koerant daar bestaan twyfel of die VBS Mutual Bank-bedrog- en korrupsieverhoor teen 13 beskuldigdes nog vanjaar sal voortgaan aangesien daar intussen twee aansoeke in die Appèlhof moet dien en moontlik ook aansoeke by die Konstitusionele Hof ingedien sal word.
# Sowetan:
Berig verder oor die omstrede versekeringsmoordsaak. Dit het in die hof aan die lig gekom dat 1,2-miljoen-rand binne tien maande op grond en duur motors uitgegee is. Die ondersoekbeampte in die saak het ook 30-duisend-rand ontvang.
# En The Citizen:
Lei met: “BUDGET: WEALTH TAX ON THE CARDS?” Die koerant vra of die regering rykes gaan teiken om sy tekort van 22-miljard-rand aan te vul.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig dit het in die moordsaak van die Stellenbosse wingerdboer Stefan Smit aan die lig gekom dat sy vrou Zurenah wat tereg staan vir die moord, na bewering sy ma se testament verander het sodat sy alles erf.
En tweedens skryf die koerant oor die 74-jarige Louis Massyn van George wat vanjaar aan sy 50ste Comrades-marathon gaan deelneem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig met twee jaar oor tot die ANC se provinsiale konferensie in die Oos-Kaap, is die veldtogte vir die leiersverkiesing reeds aan die gang. Die kandidate is die provinsiale sekretaris, Lulama Ngcukayitobi en die huidige premier, Oscar Mabuyane wat na bewering ‘n derde termyn oorweeg.
En tweedens skryf die koerant ’n dispuut oor kooktoerusting het chaos by die Elizabeth Donkin-hospitaal in Gqeberha laat ontstaan, met pasiënte wat kla dat hulle sowat twee weke lank sonder behoorlike kos sit.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar bestaan vrese dat verkoopsbelasting verhoog gaan word in die minister van Finansies se begroting môre.
En tweedens berig die koerant inwoners is van plan om te betoog oor verhoogde tariewe.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Stad Windhoek het begin toeslaan op onwettige wateraansluitings en grondbesettings in Groot Aub waar ernstige watertekorte die nedersetting in die gesig staar.
En tweedens word berig oor die goeie neerslae wat tydens Januarie oor Namibië uitgesak het.