Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Handel en Mededinging, Parks Tau het ‘n aanbeveling deur die Internasionale Handelsadministrasiekommissie aanvaar dat teen-stortingregte op aktiewe gis uit Zimbabwe ingestel word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa sê hy is bly daar is Afrikaners wat in die land wil bly en hy verwelkom die idee dat hulle hul eie standpunt in die VSA wil gaan stel.
Dan skryf die webblad die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê hy gaan nie om verskoning vra omdat hy die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Kubaanse literêre fees meer inklusief gemaak het nie.
En laastens is daar nuus oor die dood van kaptein Wynand du Toit van die polisie in Springs tydens ‘n skietgeveg met rowers gisteroggend.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die inwoners van Johannesburg staar voortgesette wateronderbrekings in die gesig. Die burgemeester, Dada Morero het die onderneming gegee dat die herstelwerk binne sewe dae afgehandel sal word. Die inwoners het dié belofte egter as waardeloos afgemaak.
En tweedens berig die koerant die EFF-leier, Julius Malema het gesê hy sal hom nie deur die VSA of Elon Musk laat boelie nie.
# Sowetan:
Berig die eggenote van die vermoorde metropolisiebeampte, Banele Skosana is voor sy roudiens in hegtenis geneem nadat die polisie uitgevind het sy het na bewering iemand gehuur om haar man te vermoor.
# En The Citizen:
Skryf kenners het gewaarsku die proses om as vlugteling deur die VSA aanvaar te word, is nie maklik nie en sluit baie rompslomp in.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die moord op imam Muhsin Hendricks in Gqeberha. Die koerant skryf dis ‘n vermeende huurmoord nadat die imam reeds verskeie doodsdreigemente ontvang het.
En tweedens is daar nuus oor die inhegtenisneming van ‘n 41-jarige polisiespeurder van Belhar in verband met beweerde dwelmhandel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ook oor die moord op die wêreld se eerste openlik gay imam die naweek in Gqeberha. Dit het intussen aan die lig gekom dat die sluipmoord ‘n haatmisdaad was.
En tweedens skryf die koerant personeeltekorte, veiligheidskwessies en vervalle infrastruktuur het ‘n negatiewe uitwerking by al die klinieke in die Oos-Kaap.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die burgemeester het onderneem om ‘n opgraderingsplan vir die Mkondeni informele nedersetting van stapel te stuur.
En berig oor die Haaie se oorwinning van 29-19 oor die Bulle op Loftus Versfeld.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die regering het sewe-miljoen-rand bewillig om gedenkdienste ter ere van die stigterspresident Sam Nujoma binne in streke te ondersteun.
Dan skryf die koerant Namibië het een van sy ergste jare in meer as ’n dekade beleef met betrekking tot renosterstropery. Sowat 81 renosters is onwettig gejag, terwyl 77 verdagtes vir renosterverwante misdade in hegtenis geneem is.
En laastens word berig die plaaslike gemeenskap van Hoachanas sal ook finansieel baat by die sonkragaanleg wat ’n jaar gelede in dié Suidedorp begin is.