Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die styging in die waarde van kapitaalprojekte verlede jaar is volgens Nedbank goeie nuus vir ‘n ommekeer in Suid-Afrika se vastebeleggingsbesteding. Kenners meen egter die besteding moet verdriedubbel word om ‘n betekenisvolle hupstoot aan ekonomiese groei te gee.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die ervaringe in die Trump-era en som dit op as “FABRICATIONS, FACTS AND THE FARMERS”. Die koerant berig oor die vermeende uittog van Afrikaners, sogenaamde rassewette oor water en Suid-Afrika se onmoontlike missie na Washington.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die liggame van die 14 gesneuwelde soldate wat uit die Demokratiese Republiek die Kongo in Suid-Afrika aangeland het. President Cyril Ramaphosa het tydens die geleentheid by die Swartkop-lugmagbasis in Pretoria gesê hulle het hul lewens opgeoffer om ander vry te maak.
Tweedens skryf die webblad een van die beskuldigdes in die Piet Bester-moordsaak in Bloemfontein het na bewering erken hy het die oudlanddros met tuingereedskap aangeval.
En laastens word berig ‘n toeris van Jordanië en sy vriendin van Nederland is helder oordag in Kaapstad aangeval en beroof.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf ’n immigrasie-kenner het Afrikaners gewaarsku om nie oorhaastig te reageer op Donald Trump se aanbod om na Amerika te verhuis met vlugtelingstatus nie. Ross Viljoen sê die lewe kan dalk moeiliker wees in ’n land waar burgers vyandigheid teenoor buitelanders toon.
# Sowetan:
Berig die waterkrisis in Johannesburg lei nou tot die sluiting van howe wat verdere druk plaas op die verstopte regsproses.
# En The Citizen:
Skryf asof dit nie genoeg is dat groot dele van Johannesburg nie watertoevoer het nie, gaan 39 gebiede van Maandag ook sonder krag wees wanneer instandhouding gedoen word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die regering se afvaardiging na die VSA sal ook ministers van die DA in die regering van nasionale eenheid insluit en in die jongste verwikkeling is AgriSA ook genader om saam te gaan.
En tweedens skryf die koerant die regering is versoek om die spertyd vir die oorskakeling van Sassa-kaarte uit te stel aangesien daar wydverspreide probleme is met die uitreiking van nuwe kaarte.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Booysen Park-sportveld word teen ‘n koste van byna 1,5-miljoen-rand opgradeer terwyl die Nelson Mandelabaai-metro dit nie eens besit nie.
En tweedens skryf die koerant alles is gereed vir die 39ste The Herald Cycle Tour wat Sondag by Pollok-strand in Gqeberha aangebied word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die beheerligaam van die Merchiston Preparatory School het in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg aangevoer die Departement van Onderwys se besluit om die wangedrag-aanklagte teen die skoolhoof, Llewellyn Bragin terug te trek is onredelik en irrasioneel .
En tweedens word daar ook berig oor die liggame van die ontslape soldate wat teruggebring is Suid-Afrika toe.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die kabinet het tydens sy eerste sitting vir 2025 besluit dat die regering Swapo se verkiesingsmanifes vanaf 1 April in werking sal stel.
Dan skryf die koerant tien hengelaars – agt Suid-Afrikaners en twee Namibiërs – is by Terracebaai in ’n verbode gebied met 18 kabeljoue betrap. Hulle is ’n gesamentlike boete van 63-duisend-rand opgelê.
En laastens is daar nuus oor die 95-jarige Pierre en 91-jarige Dottie van der Merwe wat hul sewentigste huweliksherdenking in die Altersheim in Otjiwarongo gevier het.