Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Rupert-familie het sedert die begin van die jaar sowat 52-miljard-rand tot hul rykdom bygevoeg aangesien van die maatskappye waarin hulle aandele hou, veral Richemont, uiters goed gevaar het. Hulle is nou die rykste familie in die land.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi het in die Parlement gesê Nasionale Gesondheidsversekering is ‘n werklikheid en die regering gaan vanjaar daarmee voortgaan.
Dan skryf die webblad die vermeende Wes-Kaapse bendeleier, Nafiz Modack het in die hof getuig die voormalige Wes-Kaapse speurhoof, Jeremy Veary het saam met onderwêreld gewerk om sy ondergang te bewerkstellig.
En laastens is daar nuus oor Elon Musk se seuntjie X wat die kollig gesteel het tydens ‘n mediakonferensie in die Withuis. Die video is op die webblad.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die MK-party het die regering in die Parlement beskuldig dat die soldate wat in die DRK omgekom het nie daar was om die vrede te handhaaf nie, maar om sakebelange te beskerm. Die party sê die regering kon die soldate ten minste goed toegerus het.
# Sowetan:
Berig oor ‘n ma wat na bewering haar eie kind ontvoer en 40-duisend-rand van die kind se pa geëis het. Die polisie sê hulle is steeds op soek na die kind.
# En The Citizen:
Lei met: “WHAT’S UP WITH OUR WATER?” Die koerant skryf oor die voortdurende waterprobleme in Johannesburg waar 350 gebiede min of geen water het nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig lede van die regering van nasionale eenheid sal deel uitmaak van Suid-Afrika se afvaardiging om met president Donald Trump se regering te praat, maar Solidariteit en AfriForum is nie ingesluit in die groep nie.
Dan skryf die koerant die tekort aan polisiehonde in die Wes-Kaap noop die polisie om met metro-honde-eenhede saam te werk.
En laastens word berig oor die vliegtuigdeur van die Aerocare Flying Ambulance wat in vlug afgeval en in ‘n parkeerterrein in Heidedal, Bloemfontein, beland het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die onlangse ontvoerings van ‘n Baaise sakeman en ‘n negejarige kind van Oos-Londen het die kollig geplaas op die groeiende probleem in die Oos-Kaap.
En tweedens skryf die koerant die beoogde verskuiwing van ‘n informele nedersetting het ‘n woordewisseling ontketen tussen ‘n Nelson Mandelabaai-raadslid, Bulelani Matenjwa en die hoof van Menslike Nedersettings, Thembinkosi Mafana.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die tariefverhogings wat die VSA toepas het ‘n regstreekse negatiewe uitwerking op Suid-Afrikaanse sakeondernemings.
En berig oor die Haaie se kragmeting teen die Bulle eerskomende Saterdag op Loftus in Pretoria.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Meatco se gebruik van verouderde toerusting het gedurende die vorige boekjaar gelei tot lae produksievolumes en substandaard produkte.
Dan skryf die koerant die versoek van die Hardap-boerevereniging is goedgekeur om besproeiingsvoorsiening by die Hardapskema tot 100-persent te verhoog.
En laastens is daar nuus oor ‘n vrou wat kogleêre inplantings ontvang het en nou weer haar kinders se stemme kan hoor.