Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika se militêre krisis in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo getuig van algehele regeringsverval wat nie sinvol opgelos kan word sonder ingrypende hervorming nie – selfs meer as wat die regering van nasionale eenheid beplan.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig kenners is van mening dat Solidariteit se jongste pogings om die VSA teen die ANC te draai probleme kan veroorsaak. Die Suid-Afrikaanse regering sê egter Solidariteit se planne sal nie sy gesprekke met die VSA ontspoor nie.
Dan skryf die blad die Vryheidsfront Plus het ‘n klag by die Parlement se etiekkomitee ingedien oor die MK-LP Andile Mngxitama se uitlatings oor plaasmoorde.
En laastens word berig Israel het gewaarsku indien Hamas nie Saterdag nog gyselaars vrylaat nie, is die skietstilstandooreenkoms iets van die verlede.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die MK-LP, Duduzile Zuma-Sambudla, het ‘n openbare verskoning aan haar pa, oudpresident Jacob Zuma, en die party se leierskap gerig vir die gebruik van ‘n vloekwoord in ‘n onlangse sosialemedia-plasing wat gemik is op die party se sekretaris-generaal Floyd Shivambu.
En berig tweedens, ondoeltreffendheid in Eskom se bestuur, veral met vrugtelose en verkwistende uitgawes, strafregtelike optrede en ‘n gebrek aan gevolgebestuur, dra by tot die primêre energiekoste en gevolglik die tarief vir die verbruiker.
# Sowetan:
Berig oor ‘n vrou van Noordwes wat na bewering ‘n man na Suid-Afrika gelok en ‘n vals identiteitsdokument vir hom gereël het. Sy het hierna glo twee keer probeer om hom te vergiftig voordat sy iemand gehuur het om hom met ‘n mes dood te steek sodat sy sy lewensversekering kon opeis.
# En The Citizen:
Skryf die DA-leier, John Steenhuisen het president Cyril Ramaphosa tydens die staatsrededebat die versekering gegee dat die regering van nasionale eenheid saamwerk om Suid-Afrika te herstel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die spanning tussen Suid-Afrika en die VSA.
En tweedens berig die koerant oor die vyfjarige Dee-Jay Don van St Helena-baai wat dood is nadat hy deur ‘n Kaapse kobra op sy bed gepik is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai maak gereed om volgende week honderde afgevaardigdes van die G20-indiensnemingswerkgroep te huisves. Die voortdurende misdaad, verbrokkelende infrastruktuur en kragonderbrekings bied egter talle uitdagings.
En tweedens skryf die koerant Dylan Cullis het in die Vicki Terblanche-moordsaak getuig hoe hy en Reinhardt Leach saamgesweer het om Terblanche in haar huis in Gqeberha te vermoor.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die tariewe wat Donald Trump afgekondig het, gaan ‘n negatiewe uitwerking op Suid-Afrika se staalbedryf hê.
En tweedens word ook berig oor Duduzile Zuma-Sambudla.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die adjunkminister van Inligting en Kommunikasietegnologie, Emma Theofelus sê die aankondiging oor die geleenthede wat tydens die nasionale routydperk vir wyle oudpresident Sam Nujoma geskeduleer is, is nie bedoel om aan Namibiërs voor te skryf nie.
Dan het die koerant met Nujoma se persoonlike lugwaardin, Ronel Liebenberg gepraat oor haar herinneringe.
En laastens word berig sedert die goeie, landswye neerslae in opvangsgebiede, het verskeie damme se vlakke aansienlik gestyg.