Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA daag die Onteieningswet wat tot ernstige spanning in die regering van nasionale eenheid gelei het in die hof uit. Die DA se federale voorsitter, Helen Zille het die wetgewing vergelyk met die donker dae van apartheid toe grond sondermeer deur die regering gevat is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die twis oor president Donald Trump se presidensiële dekreet en staking van fondse aan Suid-Afrika kring steeds uit en is besig om ernstige verdeling in die land te veroorsaak.
Dan skryf die webblad verskeie parlementslede het gister geëis dat die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga moet bedank oor die mislukte weermagoptrede in die DRK.
En laastens word berig Hamas sê Israel het die bepalings van hul ooreenkoms verbreek en hy gaan nou vir eers die vrylating van gyselaars staak.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die MK-party sê hy het gister ‘n strafregtelike saak van hoogverraad teen die uitvoerende leierskap van AfriForum by Kaapstad Sentraal-polisiestasie aanhangig gemaak, aangesien hy glo die organisasie het doelbewus gepoog om die soewereiniteit en ekonomiese belange van Suid-Afrika in die buiteland te skaad.
En tweedens skryf die koerant die groep Khoisan-gemeenskapslede wat sedert 2018 uit protes in die Uniegebou-tuine gewoon het en nou uitgesit is, het gedreig om hul lot aan Donald Trump te rapporteer.
# Sowetan:
Lei soos Business Day met die DA se regsaksie teen die Onteieningswet.
# En The Citizen:
Skryf die jongste Huishoudelike Bekostigbaarheidsindeks toon dat gesinne wat ‘n minimumloon verdien 57-persent van hulle inkomste bestee op elektrisiteit en vervoer en hopeloos te min aan voedsel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die groeiende twis oor Trump se aksies teen Suid-Afrika.
En tweedens berig die koerant oor 30 jaar oue klagtes van beweerde seksuele teistering wat aanhangig gemaak is teen ‘n teoloog van Maties, dokter Peter Nagel. Die klaagster is glo ‘n familielid wat nou in die buiteland woon.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ongeveer 125 poste by Continental se ContiTech Africa-aanleg in Kariega is in gevaar, aangesien die motoronderdeelvervaardiger beplan om bedrywighede te staak.
En tweedens skryf die koerant ’n gesin van Kariega het die besittings van dokter Ncumisa Mdlokolo gaan haal wat na bewering in Kaapstad doodgery is deur ’n man wat ’n Ferrari bestuur het. Die gesin was met vakansie in Kaapstad toe die voorval plaasgevind het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf plaaslike owerhede is bekommerd oor die aantal verdrinkings wat by swemstrande voorkom.
En berig ook oor die hoogverraadklag wat die MK-party teen AfriForum ingedien het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig bekommerde inwoners van Hentiesbaai het ’n beroep op die ministerie van Stedelike en Landelike Ontwikkeling gedoen om dringend in te gryp nadat beweerde ongerymdhede in die plaaslike munisipaliteit aan die lig gekom het.
En tweedens skryf die koerant die onbepaalde opskorting van sportgeleenthede soos deur die ministerie van Sport, Jeug en Nasionale Diens beveel is, het skokgolwe deur die sportgemeenskap gestuur en kritiek en steun ontlok.