Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Januarie 2024:
GAUTENG:
# Beeld:
Berig Israel is van plan om homself te verdedig teen die volksmoordklag wat Suid-Afrika teen die land aanhangig gemaak het in die Internasionale Geregshof.
En dan skryf die koerant oor die talle Nuwejaarsbaba’s wat gebore is. In Gauteng was daar 212 meisies en 200 seuns.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ’n EFF-raadslid van Polokwane het in die Seshego-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die besit van ongelisensieerde wapens en ammunisie. Die saak is uitgestel tot 12 Januarie.
# En The Citizen:
Lei met: “IS THE ANC’S END NEAR?” Die koerant berig daar word allerweë aanvaar dat die party sy 50-persent meerderheid gaan verloor en kenners meen oudpresident Jacob Zuma se party gaan die stemme vir die ANC verder verdeel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor Israel.
En tweedens berig die koerant oor die beweerde aanval op die 84-jarige Willa Bulterman van die Bloemfontein-hoewes. Haar buurvrou, die 35-jarige Natasha Ekkerd, is in hegtenis geneem.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die Shelley Point-hotel naby St Helenabaai wat deur ’n brand in puin gelê is. Besoekers moes glo in hul pajamas uit die hotel vlug.
En tweedens skryf die koerant wetstoepassers in Kaapstad het die afgelope week 242 mense in hegtenis geneem waaronder meer as 70 weens dronkbestuur.
# En Cape Times:
Vier “Tweede Nuwejaar” met kleurvolle foto’s van gister se parade.
En berig oor die meevaller vir motoriste met die verlaagde brandstofpryse.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Colin Kannemeyer het in die hof verskyn in verband met die moord op sy vervreemde vrou Cheryl-Ann. Sy is in haar motor voor hul huis in Gelvandale met ’n skerp voorwerp doodgesteek.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is talle bewerings dat die Umhlanga Belastingbetalersvereniging ’n front vir die DA is.
En die koerant berig oor die afsterwe van die ikoniese fotojoernalis Ben Ngubane.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Primêre Skool Gobabis het die gesogte status van ’n Platinum Gesondheidsbevorderende Skool bereik. Die kriteria dek aspekte soos veilige drinkwater, sanitasiegeriewe, toegang tot gesondheidsdienste en vaardigheidsgebaseerde gesondheidsopvoeding.
En tweedens skryf die koerant oor The Shed in Windhoek wat allerlei snuisterye verkoop.