Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die week wat voorlê is buitengewoon besig met die Parlement wat uit reses kom en opposisiepartye wat hul sê gaan sê oor president Cyril Ramaphosa se staatsrede verlede Donderdag. President Donald Trump se uitvoerende bevel oor Suid-Afrika se onteieningsbeleid sal ook in die kollig wees.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig meer as 20-duisend Afrikaners het reeds by die Suid-Afrikaanse Sakekamer in die VSA navraag gedoen oor moontlike hervestiging in Amerika.
Dan skryf die webblad Elon Musk het versoek dat die leier van die EFF, Julius Malema tot internasionbale misdadiger verklaar word. Volgens die blad het Malema gesê Musk kan hel toe gaan.
En laastens is daar nuus oor die 16-jarige James Palmer van Port Alfred wat met sy branderplank ‘n ma en twee kinders uit die see gered het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die Suid-Afrikaanse Reserwebank moet steeds verantwoording doen terwyl die staande komitee oor Finansies ondersoek instel na die miljarde rand se aftreefondse wat na bewering tydens die Steinhoff-sage verduister is. Die voorsitter van die komitee, Joe Maswanganyi sê die Reserwebank is nie van sy verantwoordelikheid onthef om die werknemers se fondse in te vorder nie.
# Sowetan:
Berig daar is ‘n vlaag van diefstalle van verkeersligte in groot stede. Dit veroorsaak chaos en personeel van die metropolisie moet inspring om verkeerbeheer toe te pas.
# En The Citizen:
Lei met: “TRUMP STIRS HORNET’S NEST”. Die koerant skryf Trump se optrede kan as kritiek teen Ramaphosa gebruik word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die 20-duisend wat navraag gedoen het oor vlugtelingstatus.
Dan skryf die koerant die polisie stel ondersoek in na bewerings dat die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg spesiale behandeling in aanhouding ontvang.
En laastens word berig oor die Australiese slangvanger wat 102 giftige slange in die agterplaas van ‘n huis in Sydney gevang het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig talle hoopvolle studente is in Gqeberha gestrand sonder verblyf, kos of geld om terug te keer huis toe. Hulle het na die stad gereis in die hoop om ‘n plek by die Nelson Mandela Universiteit te kry nadat hulle voorlopig aanvaar is.
En tweedens skryf die koerant plaaslike politici in Nelson Mandelabaai is reeds besig om stemme te werf vir die 2026-plaaslikeregeringverkiesing.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is ‘n reusetekort aan ambulanse in KwaZulu-Natal.
En berig oor die goeie tye wat by die Midmar-myl behaal is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Bring vandag hulde aan die land se stigterpresident, Sam Nujoma wat die naweek oorlede is met ‘n reusefoto van Nujoma op die voorblad.