Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Eskom moet nou minstens kwartaalliks verslag doen aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Elektrisiteit en Energie nadat die kragvoorsiener ‘n gekwalifiseerde verslag van die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke ontvang het. Die verslag toon min vordering met finansiële bestuur die afgelope drie jaar en selfs agteruitgang in sommige gebiede.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die tragedie wat die Beukes-gesin van Durbanville getref het. Juanita Beukes en haar kinders Emma en Stephan is in ‘n motorongeluk naby Fisantekraal dood. Juanita se man Pieter is nou die enigste oorlewende lid van die gesin.
Tweedens skryf die blad die Gautengse premier Panyaza Lesufi sê die ANC in die provinsie is nog nie gereed om vir die DA plek te maak in die bestuur nie.
En laastens word berig die 59-jarige Leon de Kock van Pretoria het verdrink tydens sy laaste kanovaart in Madagaskar voordat hy sou terugkeer.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf met Valentynsdag om die draai word gebruikers van sosiale media gewaarsku teen mense wat vals profiele skep om eensames in ‘n valse verhouding te lok.
En tweedens word berig die veelbesproke voorstel deur die Stad Johannesburg om Sandtonrylaan te herdoop na die Palestynse struggle-held, Leila Khaled, is vir eers gestaak.
# Sowetan:
Lei met: “WHEN ARE THEY COMING HOME?” Die koerant verwys na die 14 soldate wat in Goma in die Demokratiese Republiek die Kongo dood is. Volgens die Weermag is die omstandigehede in Goma tans nie gunstig om die liggame te repatrieer nie.
# En The Citizen:
Skryf met nog ‘n lid van die Weermag wat in die DRK omgekom het, het die SANW ontken dat die soldate in Goma as gyselaars aangehou word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die noodlottige ongeluk wat die Beukes-gesin van Durbanville uitgewis het.
En berig tweedens daar was vir die vierde keer in 16 maande ‘n ongeluk in Kloofnek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig twee luukse voertuie van twee-miljoen-rand vir Nelson Mandelabaai se burgemeester, Babalwa Lobishe en hoofsweep, Wandisile Jikeka is deur die raad afgekeur aangesien daar geen stawende dokumente ingedien is nie.
En tweedens skryf die koerant oor die leerder van Nelson Mandelabaai se stryd om een van die Gamtoos-seemeeue wat deur ‘n groep jeugdiges beseer is te versorg.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf leeglêers het die plaaslike polisiekaserne wat leeg staan, beset.
En berig daar is ‘n ondersoek van stapel gestuur na die geldsake van die Royal AM-sokkerklub.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n inwoner van Keetmanshoop wat na bewering 56 beeste en 100 skape van ’n plaas in die Aranos-distrik gesteel het, is agter tralies.
En skryf tweedens ’n voorgestelde munisipale regulasie in Windhoek oor honde-eienaarskap, belasting en dierewelsyn het ‘n hewige debat onder stadsamptenare, aktiviste en inwoners ontketen.