Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 31 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Energiereguleerder het Eskom ‘n tariefverhoging toegestaan wat minder as die helfte is van wat hy versoek het, maar steeds baie hoër as die inflasiekoers. Die koerant skryf die styging laat ‘n tekort van 250-miljard-rand vir die kragvoorsiener oor die volgende drie jaar.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf terwyl diplomate in ‘n woordestryd gewikkel is oor die konflik in die Demokratiese Republiek die Kongo, is Suid-Afrikaanse soldate besig om dood te gaan.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die Washington-lugramp waarin 67 mense omgekom het. Die blad neem die leser stap-vir-stap deur die gebeure wat tot die ongeluk gelei het en die ure daarna.
Voorts skryf die blad president Cyril Ramaphosa het steeds nie gereageer nie nadat president Paul Kagame van Rwanda hom beskuldig het dat hy lieg oor ‘n gesprek tussen hulle.
En laastens word berig TLU SA het die Wet op die Ontwikkeling en Bewaring van Landbougrond verwerp.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf ook oor die ooglopende konflik tussen Ramaphosa en Kagame en berig oor Ramaphosa se stilswye nadat hy van ‘n wanvoorstelling beskuldig is.
# Sowetan:
Berig polisiestatistieke dui daarop dat daar jaarliks 250 kinders as vermis aangemeld word, maar hulle word nooit opgespoor en met hulle gesinne verenig nie. ‘n Gebroke ma het aan die koerant gesê klere en speelgoed is ‘n deurlopende herinnering aan haar dogter se afwesigheid.
# En The Citizen:
Lei met: “DRC: SA LOOKS WEAK”. Die koerant skryf ook oor Kagame se aanval op Ramaphosa. Volgens kenners weet Rwanda hy is sterker as Suid-Afrika.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Staan sy hele voorblad af aan die Amerikaanse lugramp en dra dieselfde berig as op die Netwerk24-webblad.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het gedurende die 2023/2024-boekjaar nagenoeg 48,66-persent van sy watertoevoer verloor.
En tweedens skryf die koerant die oorhandiging van hennepsaad aan 26 ontluikende Oos-Kaapse boere gaan die provinsie die vernaamste daggaprodusent in die land maak.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die hofverskyning van Duduzile Zuma in verband met die 2021-betogings.
En berig tweedens daar is ‘n krisisvergadering oor Suid-Afrika se betrokenheid in die DRK gehou.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Kombat-kopermyn is besig met die opskorting van alle bedrywighede oor die volgende nege maande.
Dan skryf die koerant onderwysers van twee skole in Rundu weier om na hul klaskamers terug te keer tot die ministerie ’n oplossing gevind het vir die wurm-besmette ablusiegeriewe by die skool.
En laastens is daar nuus oor ’n inisiatief tussen die dorpe Leipzig in Duitsland en Lüderitz waarvolgens ’n bekende Duitse kunstenaar ’n dagsorgsentrum in dié hawedorp in ’n kunswerk sal omskep.