Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA-leier, John Steenhuisen het voor sy samesprekings met president Cyril Ramaphosa die party se verbintenis tot die regering van nasionale eenheid bevestig. Die koerant skryf Steenhuisen sê die besluit oor die DA se toetrede tot die RNE is nie ligtelik geneem nie, en ‘n besluit om dit te verlaat, sal ook nie ligtelik geneem word nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei ook met die konfrontasie wat in die RNE dreig. Steenhuisen sê die NGV kan die DA laat onttrek en sy party sal nie die begroting steun as dit ingesluit word nie.
Dan skryf die blad die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi is in die hof oor die kole gehaal omdat hy voete sleep om die maatskaplike ontwikkelingskrisis in die provinsie op te los.
En laastens is daar nuus oor die roudiens wat by die Dr. C.F. Visser Primêre Skool in Bloemfontein gehou is vir drie leerders, die agtjarige Aiden en sesjarige Ryan Smith en hul niggie, die agtjarige Leané van Papendorp, wat saam in ‘n motorongeluk omgekom het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die ANC het ‘n beroep op die regering gedoen om antwoorde te verskaf oor die dood van die Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula het belowe die minister van Verdediging, Angie Motshekga sal die land vandag inlig oor die situasie in die DRK.
# Sowetan:
Berig die familie van die sogenaamde versekeringsmoordenaar, Sibusiso Mahlangu sê sy skielike bekentenis is net om die hof se genade te wen.
# En The Citizen:
Skryf daar sterf daagliks vier kinders op Suid-Afrika se paaie. Die koerant berig die uitvoerende hoof van die Padongeluksfonds, Collins Letsoalo sê daar moet dringend ingegryp word en veranderings aangebing word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar is oproepe uit talle oorde om die Suid-Afrikaanse troepe in die DRK huis toe te bring nadat dit bekend geword het die dodetal staan nou op 13.
En tweedens skryf die koerant oor die Suid-Afrikaanse Weerdiens wat deur kuberboewe aangeval is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die forensiese patologiediens by die New Brighton-hospitaal is gesluit nadat die personeel blootgestel is aan gevaarlike biologiese middels, onrein oppervlaktes en ontbinde menslike liggame.
En tweedens skryf die koerant ‘n wapenhandelaar van Nelson Mandelabaai, Karen Webb is van moord aangekla nadat sy glo ‘n moordwapen voorsien het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook sedert Saterdag is daar reeds 13 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die DRK dood.
En berig president Donald Trump se besluite oor buitelandse befondsing het reeds ‘n regstreekse negatiewe uitwerking op Suid-Afrikaanse nie-regeringsorganisasies.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n man wat homself as ’n gerespekteerde sakeman voorgedoen het en glo verantwoordelik is vir onbetaalde rekeninge by verskeie lodges in Rundu, sal vir eers agter tralies bly.
Dan skryf die koerant ’n beloning van 10-duisend-rand word aangebied vir inligting oor diegene wat vermoedelik ’n swerm bedreigde Kaapse kormorante in die Dorob Nasionale Park met opset vrekgery het.
En laastens word berig lede van die gemeenskap het dadelik begin help ná ’n brand Maandagmiddag by die Nubeb-gastehuis in Usakos uitgebreek het.