Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrika staan voor een van sy ergste post-apartheid-tragedies met die dodetal van die onwettige myners in die Stilfontein-goudmyn wat reeds op 78 staan. Daar is tot dusver 166 myners na die oppervlak gebring.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Vrystaatse Onderwysdepartement het’n reuse-blaps begaan deur na te laat om sy topmatrikulant, Susan Bender van Bethlehem te nooi na die mediakonferensie waarop hy 2024 se toptien leerlinge bekend gestel het.
Dan skryf die blad die skietstilstandooreenkoms vir Gaza sal na alle verwagting teen vanaand afgehandel word.
En laastens is daar ook nuus oor die reddingspoging in Stilfontein.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die Stilfontein-mynsterftes herinner aan die Marikana-slagting.
En berig in die lig van die groeiende omstredenheid rondom FlySafair se vlugoorbesprekingspraktyke, het CemAir sterk standpunt ingeneem en homself van die oorverkoop van sitplekke gedistansieer.
# Sowetan:
Lei met: “I WAITED FOR MY TURN TO DIE”. Die koerant het met een van die onwettige myners uit die Stilfontein-myn gepraat. Hy sê hy het tussen liggame gesit en wag om dood te gaan van die honger.
# En The Citizen:
Skryf ‘n ma wat opdrag ontvang het om haar kind by die Railway Secondary School in Tshwane in te skryf kon slegs ‘n oop stuk veld langs ‘n taverne en spoorwegstasie vind. Dit blyk dat die skool nog nie gebou is nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die onderwysvakbond, Naptosa sê daar word te veel druk op onderwysers geplaas om te presteer in die matriekuitslae. Die vakbond bevraagteken ook die groot aantal leerders wat van graad 11 na graad 12 die skool verlaat.
Dan skryf die koerant Time Out het Kaapstad aangewys as die beste stad ter wêreld.
En laastens word ook berig oor die topmatrikulant van die Vrystaat.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar heers woede en paniek onder die inwoners van Plettenbergbaai nadat ’n panga-swaaiende man Dinsdagoggend ’n bejaarde egpaar in Challenge-laan aangeval en beroof het.
En tweedens skryf die koerant oor die eerste Daddy Cares Festival wat deur Doxa Family Care aangebied gaan word om aktiewe en positiewe vaderskap te bevorder.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die staat vrees vir die veiligheid van getuienes indien Ferrel en Darren Govender wat tereg staan vir die moord op die sakeman Shailen Singh borgtog ontvang.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig daar heers frustrasie onder die inwoners van die Kavango-Oosstreek weens die gebrek aan deursigtigheid nadat 24 mense die afgelope twee jaar in afsonderlike voorvalle aan voedselvergiftiging gesterf het.
Dan skryf die koerant die verkiesingsgeskil duur voort met die Independent Patriots for Change wat aanvoer die hof kan nie ‘n beslissing maak oor die geldigheid van die presidensiële proklamasie om verkiesings te verleng nie.
En laastens word berig die watertoevoer na die Hardap-besproeiingskema is op ’n 20-persent waterbesparingsbasis herstel.