Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig in ‘n geskiedkundige stap, wat die einde van ‘n byna 80 jaar lange verhouding met die tabakbedryf beteken, het Johann Rupert se Reinet Investments aan British American Tobacco onttrek. In reaksie het Reinet-aandele die hoogte ingeskiet en met 8,75-persent gestyg.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig BOSA het die DA van skynheiligheid beskuldig omdat die party nou die ANC-onderwysstelsel ophemel omdat hy nie meer ‘n opposisieparty is nie.
Dan skryf die koerant brandbestryders in Los Angeles het ‘n klein verposing gehad om voorbereidings te tref toe die sterk wind in die gebied bedaar het. Die wind sal na verwagting weer sterker word.
En laastens word berig die vermoorde landdros, Piet Bester van Glen, se bure is na bewering ook deur Bester se aanvallers geteiken.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, wil hê dat studente van skole wat by die Onafhanklike Eksamenraad geaffilieer is, dieselfde eksamens as hul eweknieë in die openbare onderwysstelsel moet aflê.
# Sowetan:
Berig terwyl daar geen probleme in ryk gebiede verwag word nie, keer die meeste leerders terug skool toe na stukkende toilette en ‘n tekort aan fasiliteite as gevolg van begrotingsbesnoeiings.
# En The Citizen:
Skryf ‘n skoolhoof van Soweto sê hulle kon ‘n 100-persent slaagsyfer handhaaf omdat daar dissipline in die skool was. Hy sê hulle het ‘n stryd gevoer teen oorvol klaskamers en dwelmmisbruik.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die onderwysdistrikte in die Wes-Kaap het ook goeie resultate behaal met ‘n matriekslaagsyfer bo 80-persent. In 2023 het 29 skole onderpresteer maar verlede jaar was daar net vyf.
En tweedens skryf die koerant die matrikulant van die Hoërskool Ellisras in Limpopo, Elani Neethling wat met vakansie in Blouberg ‘n man uit die see gered het, sê sy gaan haar lewe daaraan wy om mense te help.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor die Lungisa High School in KwaDwesi wat van ‘n slaagsyfer van 37-persent in 2021 tot ’n merkwaardige 99,1-persent in 2024 gegroei het.
En tweedens skryf die koerant Diya Gajjar van die Hoërskool Pearson is bekroon as die Oos-Kaap se topmatrikulant met haar klasmaat Chris Joubert tweede.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Berig die Landdroshof in Pietermaritzburg het beslis dat die saak teen ‘n OVK-werknemer, Msawenkosi Mnikathi nie teruggetrek word nie. Mnikathi het na bewering op 29 Mei 2024 ‘n stembus in die stad met bokse stembriewe verlaat toe hy deur MK-partylede voorgekeer is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese matriekeksamenuitslae vir 2024 wys daar brand ’n lig in die land se onderwystonnel. Meer as 50-persent van die matrikulante het vrystelling vir verdere studie.
Dan skryf die koerant die Okashana Gemeenskaplike Veewagters van die Okashana kUukongo waNehale-gebied in die Oshikotostreek eis bewyse van grondtoekennings van die Ondonga Tradisionele Owerheid.
En laastens word berig die leiers van verskeie opposisiepartye sê hulle steun die Landless People’s Movement en die Independent Patriots for Change se hofuitdaging teen die uitslag van verlede jaar se verkiesing.