Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig politieke ontleders is diep bekommerd dat die ANC niks nuuts kan bied ná die party se 8 Januarie-saamtrek Saterdag nie. Ontleders sê president Cyril Ramaphosa het nie daarin geslaag om ‘n nuwe ekonomiese visie te skets nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die oudlanddros en voormalige Vrystaatse vaskopstut, Piet Bester is op sy kleinhoewe in Glen buite Bloemfontein vermoor. Die polisie het reeds twee verdagtes in hegtenis geneem.
Dan skryf die blad die voormalige Egoli-akteur, Christell Smith het alles verloor in die Los Angeles-brand. Hulle kon net daarin slaag om hul diere te red.
En laastens is daar nuus oor die Vrystaatse para-atleet, die 14-jarige Simphiwe Ditshaba wat sy skoolloopbaan by Pretoria Boys High School gaan voortsit.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die minister van Openbare Werke, Dean MacPherson, word beskuldig van politieke inmenging nadat hy na bewering druk op ‘n personeellid van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust geplaas het oor kontrakteursbetalings. Die MK-party het ‘n beroep op die Openbare Beskermer gedoen om in te gryp.
# Sowetan:
Berig die suster van een van die onwettige myners in Stilfontein, Zinzi Tom sê hulle weet nie of haar broer nog leef nie. Die regering gaan vandag begin om die sowat 500 myners wat steeds ondergronds is te red.
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening die alliansie tussen die ANC en SAKP staan steeds sterk en hulle beleef tans net seisoenale probleme.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar is allerweë kommer oor die toename in plaasaanvalle, maar veral ook in die Stellenbosch-distrik. Agri Wes-Kaap het sy frustrasie uitgespreek omdat die aanvallers dikwels nie na behore vervolg word nie.
Dan skryf die koerant die liggaam van ‘n Switserse valskermswewer is in die Waterval-natuurreservaat opgespoor nadat hy verongeluk het.
En laastens is daar nuus oor ‘n koffiewinkel in Mitchells Plain wat sy koeke ná ‘n klopjag verloor het omdat dit verby vervaldatum was.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig een van Nelson Mandelabaai se besigste openbare gesondheidsfasiliteite, die Dora Nginza-hospitaal, se neonatale intensiewe sorgeenheid is oorstroom. Intussen lek die dak van die Zwide-hospitaal se kraamsaal en die verpleegpersoneel moet komberse op die vloere gooi.
Tweedens skryf die koerant ‘n voormalige inwoner van Gqeberha, dokter St Claire Adriaan, is een van die duisende Amerikaners wat voor die vlamme moes uitvlug in Los Angeles.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf Ramaphosa se boodskap oor henuwing in die ANC is met gemengde gevoelens begroet deur kenners en die publiek. Hulle sê daar is veel meer betrokke as om bloot die party te herbou.
En tweedens word berig die voormalige onderburgemeester van eThekwini, Philani Mavundla, gaan na bewering by die MK-party aansluit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Swapo sê die Landless People’s Movement kan nie beide applikant en respondent in die saak wees waarin verlede jaar se verkiesingsuitslae uitgedaag word nie.
En tweedens is daar nuus oor ‘n reuse-vonds dagga waarop daar in Desember beslag gelê is. Die polisie sê dis niks nuut nie.