Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC skop die week in die Wes-Kaap af met sy 113de bestaansviering. Die koerant skryf daar word allerweë verwag dat president Cyril Ramaphosa aandag sal skenk aan politieke verwikkelinge.
# En Netwerk24 wat Beeld en Volksblad insluit:
Skryf oor die gedenkdiens vir die vermoorde Chesnay Keppler van Eldoradopark. Sy is in Desember na bewering deur haar kêrel wat ‘n polisiebeampte is doodgeskiet. Honderde mense het die begrafnis bygewoon.
En tweedens word berig ‘n sesjarige seuntjie is doodgeskiet tydens ‘n rooftog by die McDonalds-restaurant in Meadowvale, Germiston. Sy ouers het kos bestel by die deurry-venster toe die voorval gebeur het.
En laastens is daar nuus oor die tornado wat die naweek in Welkom voorgekom het en wydverspreide skade aangerig het. Daar was ook oorstromings in Bloemfontein.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die polisie in Gauteng en Noordwes is op gereedheidsgrondslag met voorvalle van ontvoering wat steeds toeneem.
En skryf meer as 120 onwettige immigrante is by die Beitbrug-grenspos in hegtenis geneem.
# Sowetan:
Berig die Limpopo-regering het sy misnoeë te kenne gegee nadat dronk massas ‘n ambulans op pad om ‘n noodgeval te hanteer, op Nuwejaarsdag aangeval en geplunder het.
# En The Citizen:
Lei met: “NOW WE ARE A MAFIA STATE”. Die koerant skryf met die ontvoerings van mense en die afpersing van selfs bejaardes het Suid-Afrika nou volgens kenners op dieselfde vlak as lande soos Meksiko geland.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die Oosthuizen-gesin van Brits in Noordwes wat deur Kerneels Brummer van Wynberg met sy branderplank uit die see by Stilbaai gered is.
Tweedens skryf die koerant oor die 12-jarige Luhan Smit van George wat drie ton hondekos ingesamel het deur mense oor Desember te nooi om na die kersliggies by sy huis te kom kyk.
En laastens is daar nuus oor die wêreld se oudste lewende persoon, die 116-jarige Tomiko Itooka van Japan wat oorlede is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig met minder as tien dae oor voor die begin van die nuwe akademiese jaar, wag sowat tweeduisend Oos-Kaapse leerders steeds om by skole regoor die provinsie geplaas te word.
En tweedens skryf die koerant emosies loop hoog nadat ‘n polisiebeampte van Gqeberha na bewering deur jong inwoners van die gebied wat hy beskerm, doodgeskiet is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die MK-party het Mervyn Dirks aangestel as sy hoofsweep in KwaZulu-Natal.
En berig die koninklike egskeiding veroorsaak probleme in die Zoeloe-gemeenskap.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Het nog nie ‘n digitale weergawe van sy voorblad uitgegee nie, maar die koerant berig op sy webblad oor die wydverspreide reën wat oor groot dele van die land uitgesak het. Daar was ook talle oorstromings wat skade aangerig het, veral in die hoofstad Windhoek.