Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Desember 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die likwidateur van die ontbinde VBS Mutual Bank het 458-miljoen-rand aan die bank se krediteure betaal, insluitend munisipaliteite wat geld onregmatig in die bank belê het. Die betalings, wat as dividende beskryf word, is die tweede uitbetalings sedert die likwidateur die bank se sake oorgeneem het.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor “die rivier van die dood”. Die koerant berig net twee slukkies van die water het gelei het tot die dood vir ‘n Hennopsriviervallei-boer.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig daar word ondersoek ingestel na bedrog met die uitbetaling van fondse aan nie-regeringsorganisasies in Gauteng. Die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling kyk na 500-miljoen-rand wat reeds sedert 2019 deur onwettige tenders verduister is.
Dan skryf die koerant oor die afsterwe van die skrywer Annelie Botes.
En laastens is daar nuus oor Barend Neethling wat in Parys in die Vrystaat uit ‘n vliegtuig gespring het om Janneke Yssel te vra om te trou. Barend ly aan hoogtevrees.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean McPherson word beskuldig dat hy bevooroordeeld is met die ondersoek na tenders.
En tweedens berig die koerant die Mededingingskommissie het Nedbank glo skuldig bevind aan samespanning.
# Sowetan:
Lei met “GIVE US WATER FOR CHRISTMAS”. Dis ‘n pleidooi van Johannesburgse inwoners.
# En The Citizen:
Skryf die polisie het afgelope vier jaar 1,6-miljard-rand aan siviele eise betaal vir onder meer voorvalle van aanranding en verkeerdelike inhegtenisnemings.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Staatslykshuis in Bloemfontein is steeds gesluit en dit het ‘n ernstige uitwerking op die afhandeling van strafsake.
Tweedens skryf die koerant oor Oscar Pistorius se pa Henke wat praat oor Kersfees saam met Oscar tuis.
En laastens is daar ook nuus oor die afsterwe van Annelie Botes.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die dood van die 38-jarige JD Nel van Hermanus. Hy het Maandag teen kranse afgestort terwyl hy en ‘n vriend na ‘n hommeltuig gesoek het wat verlore geraak het. Sy liggaam is Dinsdag opgespoor.
En tweedens skryf die koerant ook oor Oscar Pistorius se Kersfees tuis.
# En Cape Times:
Skryf onder meer oor die plasing van leerders by skole in die Wes-Kaap in 2025 en berig die Stad Kaapstad is besig om meer as vier-duisend aansoeke van spazawinkels te verwerk.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai se toevoerdamme het ‘n gesamentlike vlak van 84-persent bereik en belastingbetalers is verlig dat die raad besluit het om weg te doen met strafwatertariewe.
En tweedens skryf die koerant die onderburgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk van die National Alliance is uit sy amp geskors.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli sê die sukses van die ANC is in eenheid geleë.
En tweedens berig die koerant 10,6-miljoen Suid-Afrikaners is nou werkloos.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig dag twee van die Fishrot-beskuldigdes se pleitverrigtinge is gekenmerk deur verskeie onderonsies tussen die beskuldigdes, die staatsaanklaer en die regter.
Tweedens skryf die koerant klimaatsveranderinge in die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied, sal ’n reuse-uitwerking op die lewensbestaan van inwoners hê.
En laastens is daar nuus oor Lyne van Fantasie. Dis ‘n digbundel deur jong digters met ‘n passie vir Afrikaans.