Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Desember 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging ondersoek bewerings van wanadministrasie teen sommige van die uitvoerende hoofde van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde. Die departement het sy kommer uitgespreek oor onder meer kuberveiligheidsprobleme by die buro.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald het bekend gemaak daar is die afgelope 12 maande op onder meer 1,5-miljoen ton dwelmmiddels, 42-duisend fone en 268 liter drank beslag gelê in die land se tronke. Groenewald sê sedert hy die portefeulje oorgeneem het was daar verskerpte klopjagte in tronke.
Vervolgens skryf die koerant die Lebombo-grenspos is as gevolg van betogings in Mosambiek weer gesluit en vakansiegangers moet van die Kosibaai-grenspos gebruik maak.
En ten slotte is daar ‘n berig oor JP en Lila du Plessis wat bykans 40 jaar al koerante aflewer.
# The Star & Pretoria News:
Berig oor die saak teen die OVK-kommissaris, Nomsa Masuku. Haar neef Ciniso Masuku is by die lys van beskuldigdes gevoeg, wat die staat se saak versterk.
En tweedens skryf die koerant die mediavakbond ICTU het Nedbank gekritiseer vir die sluiting van die Sekunjalo-groep se rekening.
# Sowetan:
Berig met die dood van die regsverteenwoordiger van beskuldigde nommer-een in die Senzo Meyiwa-moordsaak sal daar nou verdere vetragings volg. Muzi Sibiya se nuwe regsverteenwoordiger sal volgens die koerant moontlik getuies herroep.
# En The Citizen:
Skryf die Hooggeregshof in Pretoria het die Gautengse Departement van Onderwys opdrag gegee om die sogenaamde rassismeverslag oor die Pretoria High School for Girls bekend te maak. Die saak is gister van die rol geskrap.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die eerste hofverskyning van die vier verdagtes in die plaasmoord in die Goedehoop-distrik in die Suid-Vrystaat. Die koerant skryf die optrede deur die veiligheidsnetwerk van boere, die polisie en sekerheidsdienste het die vrou se lewe gered. Haar man is tydens die aanval vermoor.
En tweedens word berig Vrystaat Landbou waarsku dat elke dag sonder reën die omstadighede vir die bedryf agteruit laat gaan.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor die klopjagte in tronke.
Tweedens word berig nagenoeg 15,4-miljoen-rand se druiwegeur Panado-stroop is deur Adcock Ingram uit die mark onttrek.
En laastens is daar nuus oor ‘n studie van die Universiteit van Kaapstad wat daarop dui dat nagenoeg 30-persent van matrikulante aktief damprook.
# En Cape Times:
Skryf die Arbeidshof het ‘n besluit deur ‘n kommissaris van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regering Bedingingsraad bekragtig wat bevestig dat die Stad Kaapstad ‘n onbillike arbeidspraktyk gepleeg het.
En tweedens word berig ‘n Oos-Kaapse prokureur, Du Wayne Stoltz het borgtog ontvang nadat hy in die hof verskyn het vir die beweerde verduistering van 280-duisend-rand.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig meer as duisend spaza-winkels in Nelson Mandelabaai kan vir goed gesluit word as hulle Vrydag se sperdatum om hul ondernemings te registreer misloop.
En tweedens skryf die koerant Nelson Mandelabaai se burgemeester, Babalwa Lobishe het haar belofte nagekom en verseker dat die Cuylerbrug en die Gibbon- en Durbanstraat-kruising in Kariega weer vir motoriste oopgestel word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die KwaZulu-Natalse regering se besluit om die 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld uit te brei na 365 dae is uit talle oorde verwelkom.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die nuwe opposisieparty in die Namibiese wetgewer, die Independent Patriots for Change gaan regstappe doen oor beweerde vermiste stembriewe die afgelope verkiesing.
En tweedens skryf die koerant ’n gerespekteerde kenner in Afrika-natuurlewebestuur sê Texas se eksotiese wildbedryf hou ’n ernstige bedreiging vir Namibië in.
En laastens is daar nuus oor ’n nuwe boorgat in die suide wat water voorsien aan die wilde perde en ‘n groot aantal wild, wat gemsbokke tot volstruise insluit.