Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Desember 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die pluimveeprodusent Astral twyfel oor die waarskynlikheid dat hoenderprodukte van BTW vrygestel sal word, wanneer die Nasionale Tesourie sy lys van nulkoersitems hersien. Dit volg nadat die Pluimveevereniging al lank daarvoor pleit dat sekere hoenderprodukte die nulkoers moet kry om finansiële druk op lae-inkomste-huishoudings te help verlig,
GAUTENG:
# Beeld:
Se hele voorblad bestaan vandag uit ‘n beoordeling van die ministers van die regering van nasionale eenheid. Dit is grafies voorgestel en interessante leesstof.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika is na bewering op die randjie van bankrotskap.
En berig die Suid-Afrikaanse sangsensasie Tyla is op pad terug Johannesburg toe.
# Sowetan:
Fokus vandag op die onwettige vervoer van kinders oor Suid-Afrika se grense. Die koerant berig in een week is nagenoeg 110 kinder-migrante gered. In die jongste voorval is ‘n minibustaxi voorgekeer wat 14 ongedokumenteerde minderjariges oor die grens wou neem.
# En The Citizen:
Skryf die Spesiale Ondersoekeenheid het vasgestel NSFAS het nie jaarliks die oortollige fondse van universiteite verhaal vir heraanwending tot studente se voordeel nie. Daar is tans sprake van 1,7-miljard-rand wat oor vyf jaar opgehoop het.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die aanval op ‘n 45-jarige boervrou van die Goedemoed-distrik in die Suid-Vrystaat. Sy is nadat haar man vermoor is, in ‘n voertuig rondgery en gedwing om geld te trek. Sy is vermoedelik ook verkrag. Die polisie het haar bevry en een van die vier verdagtes doodgeskiet.
Tweedens skryf die koerant die regering het oproepe op Facebook verwerp dat die land vandag tot stilstand geruk word.
Voorts word berig minstens 25 mense is die naweek in motorongelukke op Vrystaatse paaie dood.
En laastens is daar nuus oor die Blitsbokke se segetog in Kaapstad toe hulle Frankryk met 26-14 in die eindstryd geklop het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die dreigende krisis in Wes-Kaapse onderwys. Na verwagting gaan duisende leerders in 2025 na die provinsie stroom en daar is geen begroting hiervoor beskikbar nie. Daar is ook ‘n dreigende staking omdat daar minder poste beskikbaar sal wees.
En tweedens berig die koerant ook oor die Blitsbokke.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaapse regering en sy munisipaliteite verdrink in skuld aan die Spesiale Ondersoekeenheid. Daar is tans 119-miljoen-rand agterstallige skuld.
En tweedens skryf die koerant enigiemand wat belang het by Nelson Mandelabaai-toerisme werk hard daaraan om misdaad te bekamp en die beste uit plaaslike besienswaardighede na vore te bring.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Berig daar is talle oproepe dat die meesterbrein agter die moord op die fluitjieblaser Babita Deokaran in hegtenis geneem moet word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig indien die Vereniging vir Mediese Fondse in Namibië vir die tweede agtereenvolgende jaar besluit om nie tariewe te verhoog nie, is sowat 66-persent van privaat gesondheidspraktisyns van plan om steeds hul tariewe te verhoog.
En tweedens skryf die koerant die aangewese president Netumbo Nandi-Ndaitwah het gerugte oor haar gesondheid in die kiem gesmoor.