Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Desember 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ’n ineenstorting in die landbousektor het daartoe gelei dat Suid-Afrika se ekonomie in die derde kwartaal met 0,3-persent gekrimp het. Ekonome was onder die indruk dat die BBP oor die tydperk sou uitbrei en het gehoop dat voljaargroei 1-persent of meer sal bereik.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die aanval op professor Tess van der Merwe en haar kinders in haar huis in Pretoria. Sy is vier keer in die arm geskiet maar het besluit om onmiddellik weer haar praktyk as endokrinoloog en vetsugspesialis voort te sit.
Tweedens skryf die koerant kenners is van mening dat president Cyril Ramaphosa se besluit om die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane na Menslike Nedersettings te skuif, nie die druk op hom gaan verlig nie.
En laastens is daar nuus oor die laaste afskeid aan Breyten Breytenbach in Parys, Frankryk. Sy rooi skoene en ‘n wit blom is al wat op die kis geplaas is.
# Sowetan:
Berig die inwoners van Soweto het te velde getrek teen die voorgestelde tariefverhoging van Eskom. Die gemeenskap sê niemand sal ‘n verhoging van 36-persent kan bekostig nie.
# En The Citizen:
Berig 25 personeellede van die Departement van Basiese Onderwys het kriminele rekords. Van hulle is steeds in klaskamers in kontak met leerders.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde berigte op sy voorblad as Beeld.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die verskuiwing van Simelane en skryf ook oor Breyten se afskeid.
Laastens word berig die twee mans wat Allison Botha 30 jaar gelede aangeval, verkrag en vir dood agtergelaat het se parool sal heroorweeg word.
# En Cape Argus:
Skryf ‘n Kaapstadse prokureur wat straatkinders gemolesteer het en geld betaal het vir seksuele gunsies is in die Wynberg-landdroshof gevonnis.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig van die byna 200 moorde wat die jaar in die noordelike dele van Gqeberha aangemeld is, is die meerderheid steeds onopgelos met geen geregtigheid vir die slagoffers nie.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van St Francis bevraagteken die provinsiale regering se besluit om 218-miljoen-rand aan die Humansdorp/Hankey-roete te bestee, terwyl die Humansdorp/St Francis-roete herstelwerk nodig het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die KwaZulu-Natalse regering en die langafstand-taxibedryf in die provinsie se geskil oor die uitreiking van permitte is besig om verder uit te kring met slegte gevolge vir die ekonomie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig voorspellings dui daarop dat Swapo ongeveer tien setels in vanjaar se Nasionale Verkiesing verloor het.
En tweedens word berig ses lede van Popular Democratic Movement wat in 2019 onwettig verwyder is van die party se parlementêre lys, dring aan op die volle betaling wat hulle sou ontvang indien hulle nie van dié lys verwyder is nie.