Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig daar broei nuwe spanning in die regering van nasionale eenheid oor die onttrekking van die SABC-wetsontwerp. Die besluit deur die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi is deur die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, veroordeel. Sy sê hy oortree protokol.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Lebombo-grenspos met Mosambiek is weer gesluit. Volgens berigte is minstens 24 mense reeds dood in protesoptrede teen die uitslag van die 9 Oktober-verkiesing. Die koerant skryf die regering wil nie graag grensposte sluit nie omdat dit ’n negatiewe invloed op die ekonomie het, maar sal geensins huiwer om dit te doen as mense se lewens in gevaar is en infrastruktuur beskadig word nie.
En tweedens word berig die aanklagte van dronkbestuur en omkopery teen die oudlid van die sogenaamde Waterkloof-vier, Christoff Becker is voorwaardelik teruggetrek.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die sanger Jennifer Ferguson wat die sokkerbaas, Danny Jordaan in 2017 van verkragting beskuldig het, het sy arrestasie weens bedrog verwelkom.
En berig Johannesburgse waterverbruik laat die wenkbroue lig.
# Sowetan:
Berig Jordaan se aansoek om nie gearresteer te word nie, is van die hand gewys omdat dit nie volledig ingedien is nie. Jordaan en sy medebeskuldigdes het borgtog ontvang.
# En The Citizen:
Skryf Danny Jordaan mag sy paspoort behou maar die hof het gelas dat hy slegs vir werk mag reis en vooraf aansoek doen.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die ANC het drie sterk leiers geïdentifiseer om die probleme by Noord-Kaapse munisipaliteite reg te ruk.
En tweedens skryf die koerant oor die negejarige Langalethu Magoda wat die naweek in ‘n fratsongeluk dood is toe ‘n grafsteen in ‘n begraafplaas op haar geval het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n vrou wat na bewering deur ‘n egpaar van Melkbosstrand as seksslaaf aangehou is, het volgens een van die beskuldigdes glo 100-duisend-rand per maand vir haar diens ontvang.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n ongelisensieerde fabriek in Mfuleni in Kaapstad wat tydens ‘n klopjag ontdek is. Daar is vasgestel daar is wors gemaak van vleis wat vir hondekos bedoel was.
# En Cape Times:
Skryf Wes-Kaapse munisipaliteite skuld Eskom 300-miljoen-rand.
En berig ook oor Danny Jordaan se borgtog.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig sekere inwoners van Nelson Mandelabaai leef in vrees vir voedselvergiftiging aangesien hulle geen keuse het as om kruideniersware by spazawinkels aan te koop nie.
En tweedens berig die koerant ook oor Danny Jordaan se borgtogaansoek.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Het dieselfde hoofberig as The Star & Pretoria News oor die sanger Jennifer Ferguson.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese Instituut vir Beleidsnavorsing het ’n tweede verslag uitgereik oor die uitwerking wat die Fishrot-korrupsieskandaal op menseregte in Namibië gehad het.
Dan skryf die koerant sewe-duisend-199 kiesers het reeds in Namibië aan die spesiale stemproses deelgeneem, terwyl 586 Namibiërs in die buiteland hul kruisies getrek het.
En laastens is daar nuus oor 10 fietsryers wat vanjaar die Nedbank Desert Dash aandurf om fondse vir die kinders van die Ruach Elohim-stigting en soortgelyke stigtings in te samel.