Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig danksy die ingryping van die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa het die Johannesburgse metro se kragvoorsiener, City Power ingestem om ‘n gedeelte van die omstrede 4,9-miljard-rand wat hy aan Eskom verskuldig is te betaal. Kragonderbrekings in Suid-Afrika se ekonomiese en finansiële spilpunt is vir eers afgeweer.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die Johannesburgse kragkrisis. Die koerant berig die Suid-Afrikaanse Nasionale Energieontwikkelingsinstituut sal Eskom se rekenings nagaan en ondersoek instel na City Power se bewerings dat dit verkeerd is.
Dan skryf die koerant die ma van Dawie Snyder wat in ‘n ongeluk buite Mokopane dood is, sê hy het uit Amerika kom besoek aflê om te groet. Susan Snyder woon in Mokopane.
En laastens word berig die omstrede diamantsmous, Louis Liebenberg het ‘n beroep gedoen dat daar nagenoeg vyf-miljoen-rand ingesamel word vir sy en sy vrou Dezzi se borgtogaansoek Vrydag. Hy het glo 700-duisend-rand onmiddellik nodig nadat al sy bankrekenings bevries is.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die Nasionale Vervolgingsgesag sê die moontlikheid is nie uitgesluit dat adjunkpresident Paul Mashatile vervolg kan word nie.
En berig tweedens oor Johannesburg se waterprobleme. Volgens die koerant kan ernstige waterbeperkings ingestel word.
# Sowetan:
Berig hoewel Ramokgopa daarin kon slaag om ‘n ooreenkoms met Eskom te beding oor kragvoorsiening, sal Johannesburg se waterverbruik daagliks van negeuur saans tot vieruur soggens beperk word.
# En The Citizen:
Lei met: “WE WON’T LET THE TAPS RUN DRY”. Dit is volgens die koerant die belofte van die regering aan die inwoners van Gauteng terwyl daar dringend planne beraam word om die watervoorsiening te verbeter.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n storm het die naweek ernstige skade aangerig in Thaba Nchu terwyl Eskom sê hulle netwerk in die Vrystaat, veral in die noorde van die provinsie is ook beskadig.
En tweedens skryf die koerant een van die beskuldigdes in die moord op die Potchefstroomse plaasbestuurder Ian Boshoff het in die hof erken hy het die moord gepleeg. Phafelo Israel Mboniswa het sy hand in die hof opgesteek en gesê: “Ek het dit gedoen”.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die 29-jarige Jeannie le Roux het by ‘n kitskosrestaurant in die Paarl inmekaargesak en gesterf. Die oorsaak van haar dood is onbekend. Sy sou oor vyf weke in die huwelik tree met Michael Louw.
Tweedens skryf die koerant ‘n Franse toeris word vermis in die berg by Kirstenbosch. Hy het na bewering afgedwaal van ‘n stapgroep.
En laastens is daar ook nuus oor Louis Liebenberg wat geld bedel.
# En Cape Times:
Skryf die vermoorde bendebaas Mark Lifman se naam is van die moordklagstaat van Brian Wainstein verwyder.
En berig die stad Kaapstad gaan voort met sy planne om die treindiens in die Kaap oor te neem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Chinese motormaatskappy FAW Trucks gaan 200-miljoen-rand in sy aanleg in Gqeberha belê om die aantal produksie-eenhede van vyf- tot agt-duisend te verhoog.
En tweedens skryf die koerant oor die hofgetuienis van Liezel Badenhorst wat na bewering 18-miljoen-rand van haar werkgewer gesteel het om haar dobbelverslawing te voed.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson is tans op besoek aan Kwazulu-Natal om die beweerde uitbuiting van vroue en die verkoop van werksgeleenthede in die uitgebreide openbarewerkeprogram te ondersoek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Fishrot-verhoor word tans vertraag weens ’n besluit wat regter Moses Chinhengo moet neem oor ’n aansoek om die verhoor verder uit te stel. Van die beskuldigdes eis internettoegang en sekere meubels in aanhouding.
Tweedens skryf die koerant die matriarg van die Ugab-olifante, Mathilda, is onlangs dood en haar trop sal nou ’n uitdagende oorgangsfase moet oorkom.
En laastens is daar nuus oor ‘n vierdejaarstudent, Douglas Mashonganyika wat kunsmatige intelligensie ontwikkel om breingewasse te diagnoseer. Hy sê hy wil graag dié stelsel uitbrei om verskillende soorte gewasse in verskeie dele van die liggaam te kan diagnoseer.