Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Eskom sê hy het die proses begin om kragtoevoer na City Power te sny weens onbetaalde rekeninge van 6,3-miljard-rand, waarvan 4,9-miljard agterstallig is. Die koerant skryf inwoners van Johannesburg kan Kersfees in die donker deurbring.
# En Mail & Guardian op Vryae:
Lei met “NOTHING IS SECURE” Die koerant skryf kliënte is die verloorders terwyl banke sukkel om voor te bly met KI-gedrewe kuberaanvalle.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Mosambiekse opposisie glo die tyd het aangebreek vir ‘n rewolusie. Die koerant skryf die polisie het gister traangas afgevuur op honderde betogers teen die land se verkiesingsuitslae. Die Mosambiekse minister van Verdediging, Cristóvão Chume sê die weermag is gereed om in te gryp.
En tweedens word berig kenners meen Suid-Afrika moet sy diplomatieke betrekkinge met Amerika drasties verbeter, veral noudat Donald Trump weer president gaan word.
# The Star & Pretoria News:
Skryf Dali Mpofu wat nou ook van die EFF oorgestap het na die MK-party, sê hulle het in 2022 reeds begin om MK te stig.
En tweedens skryf die koerant ook oor die verwagte kragkrisis in Johannesburg.
# Sowetan:
Berig oor die nagmerrie-ondervinding van ‘n Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurder, Andrew Teme wat in die Mosambiekse betogings vasgevang was. Hy sê jong seuns gewapen met kapmesse het hom uit sy voertuig geruk en aangerand.
# En The Citizen:
Skryf die Mosambiekse krisis het ‘n negatiewe uitwerking op Suid-Afrikaanse sakeondernemings.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Appèlhof het uitspraak voorbehou in die appèlsaak deur dr. Nandipha Magudumana om haar arrestasie in Tanzanië onwettig te laat verklaar. Sy beweer haar arrestasie was was niks meer as ‘n onwettige uitlewering nie.
En tweedens skryf die koerant die Springbokke het uitstekende weer en goeie oefenomstandighede om voor te berei vir die toets teen Skotland.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula het uitgevaar teen die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille wat voortdurend die regering van nasionale eenheid met haar uitsprake in gevaar stel. Hy sê die DA kan onttrek as hulle wil.
Dan berig die koerant oor die liggaam van ‘n seun wat gevind is nadat hy deur ‘n hond aangeval is. The Herald in Gqeberha het gister breedvoerig hieroor berig.
En is daar nuus oor kinders onder 16 in Australië wat voortaan verbied gaan word om sosiale media te gebruik.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Mbalula wat teen Zille uitgevaar het.
En berig ook oor Dali Mpofu se skuif na die MK-party.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig tientalle werklose inwoners van Nelson Mandelabaai het na bewering ‘n vrou wat in ‘n DA-wyksraadslid se kantoor werk, ontvoer en beweer dat sy hulle werk belowe het.
En tweedens skryf die koerant toe Rachel Kolisi by ‘n Women’s Circle Business Workshop in Gqeberha aankom, is sy staande toegejuig deur 140 vroue.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die gemeenskap is omgekrap oor die skielike sluiting van ‘n Hindoe-skool in eThekwini.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig nog kritiek is oor die Namibiese Statistieke-agentskap se 2023 Bevolkings- en Behuisingsensusverslag uitgespreek. Die verslag word as onakkuraat, onbetroubaar en swak bestempel.
Dan skryf die koerant oor die uitdagings vir die regering om Namibië se see- en binnelandse visserye te beskerm en volhoubaar te bestuur.
En laastens is daar nuus oor die plase Sukses en Doornkom, 80 km suid van Otjiwarongo, wat Woensdag neerslae van tussen 20 en 40 mm ontvang het.