Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die voorsitter van die Staatsdienspensioenfonds, Dondo Mogajane het sy onmiddellike bedanking uit al sy professionele rolle en direksieposte aangekondig. Die koerant skryf dit volg op bewerings in ‘n beëdigde verklaring deur die voormalige voorsitter van die VBS Mutual Bank, Tshifhiwa Matodzi dat Mogajane omkoopgeld van een-miljoen-rand aanvaar het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Gautengse Departement van Onderwys het bevind die hoof, adjunkhoof, menslike hulpbronne- en die finansiële bestuurder, twee onderwysers en die terreinbestuurder van die Pretoria High School for Girls moet weens beweerde wangedrag ondersoek word. Dit staan in verband met ‘n beweerde kultuur van rassisme by die skool.
En tweedens skryf die koerant ‘n bebaarde prins William van Brittanje het gister in die land aangekom vir Earthshot-week in Kaapstad.
# The Star & Pretoria News:
Skryf daar is oproepe vir ‘n noodtoestand oor die sterftes weens vergiftigde voedsel.
En skryf oor Rachel Kolisi wat vir die eerste keer praat oor haar en Siya se egskeiding.
# Sowetan:
Berig oor sersant Nnditsheni Vele wat in hegtenis geneem is nadat hy sy kinderoppasser doodgeskiet het.
# En The Citizen:
Skryf die verslag van die Gautengse Onderwysdepartement oor rassisme by die Pretoria High School for Girls is teenstrydig met die verslag van oudpresident Thabo Mbeki en die aangeleentheid is lank nog nie afgehandel nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor AfriForum en Solidariteit se massabetoging vandag teen die Bela-wet. Daar word vyfduisend mense verwag met die leiers van die DA en VF+ wat ook gaan deelneem.
En tweedens skryf die koerant die sanger Brendan Peyper ontken nou dat hy die huwelik van die rugbyspeler Stephan Janse van Rensburg en sy vrou Danelle opgebreek het. Peyper het wel glo intieme WhatsApp-boodskappe met haar gedeel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig vandag verder oor die sluipmoord op die vermeende bendeleier, Mark Lifman. Die koerant skryf ‘n oud-taakmaglid van die polisie is moontlik een van die skieters. Daar is ook inligting dat die moordenaars Lifman dae lank agtervolg het en dat hy vyf keer geskiet is.
Tweedens skryf die koerant die ma van die vermoorde Jerobejin van Wyk sê sy sal sy moordenaar Daniel Smit nooit vergewe nie. Triesa van Wyk het getuig voordat Smit lewenslank gevonnis is.
En laastens is daar nuus oor 14 mense wat dood is toe die weerlig ‘n kerk in Uganda getref het.
# En Cape Times:
Berig ook oor die Lifman-sluipmoord en Daniel Smit se vonnis.
En skryf vandag is dit D-dag vir die Amerikaners wat tussen Trump en Harris moet kies.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die koerant het met ooggetuies van die Lifman-sluipmoord gepraat. Hulle sê die moord was oënskynlik goed beplan.
En tweedens skryf die koerant die biokinetikus van Gqeberha, Riana Pretorius het vir die eerste in die stad se Streekhof gepraat oor haar ontvoerders.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die regering van provinsiale eenheid in KwaZulu-Natal is onder druk met tweespalt wat dreig tussen die IVP en ANC.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n ma van ‘n 30-jarige seun met geestesprobleme het die hof genader nadat hy na bewering deur ‘n medepasiënt verwurg is.
En tweedens skryf die koerant gunstige reëntoestande en koeler weer word vir die Noordooste, Ooste en sentrale hoogland voorspel.