Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 November 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitslag van die Amerikaanse verkiesing en die besluit van ‘n Chinese Kommunistiese Party-kongres sal die week die ekonomiese koers wat voorlê vir die wêreld se twee grootste ekonomieë bepaal.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die vliegtuigongeluk by Cullinan waarin Lourens van Niekerk en Stephan le Roux omgekom het. Die enjin van die vliegtuig het glo onklaar geraak en hulle het kragdrade getref.
Dan skryf die koerant die regering sê dit maak nie saak wie die Amerikaanse presidentsverkiesing wen nie, solank Suid-Afrika se belange net beskerm word.
En laastens word berig die versengende hitte sal die week hopelik wyk en plek maak vir broodnodige reën.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die uitvinder van Please Call Me, Nkosana Makate wil 9,4-miljard-rand hê.
En tweedens word berig daar is nog voorvalle van voedselvergiftiging in townships aangemeld.
# Sowetan:
Berig oor die dood van die 11-jarige Lesedi Mulaudzi nadat sy na bewering vergiftige versnaperinge van ‘n spazawinkel in Alexandra geëet het. Haar ma en broer is in ‘n kritieke toestand. Die koerant skryf die regering weet blykbaar steeds nie waar die spazawinkels se voorraad vandaan kom nie.
# En The Citizen:
Skryf fluitjieblasers sê beweerde begunstiging deur die uitvoerende hoof van nasionale lugverkeersdienste, lei tot ongekwalifiseerde aanstellings met hoë salarisse en dit bedreig lugvaartveiligheid. Die ministerie van vervoer is glo heeltemal onbewus hiervan.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die verwagte reën- en koeler weer wat op pad is ná die versengende hitte.
En tweedens word berig speurdersersant Nobi Bokamoso Peter van Bloemfontein wat kinder- en seksuele geweldsmidade ondersoek, is vereer met ‘n Suid-Afrikaanse Heldin-prys.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die sluipmoord op die onderwêreldse sakeman Mark Lifman wat in George doodgeskiet is. Na wat berig word is twee verdagtes tussen Willowmore en Uniondale in hegtenis geneem.
En tweedens skryf die koerant die Universiteit Stellenbosch sal later die week verdere besonderhede oor die Wilgenhof-verslag bekend maak.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die sluipmoord op Lifman en berig die ondersoek is in geheimhouding gehul.
En tweedens berig die koerant ook oor die voedselvergiftinggeval in Alexandra.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha
Berig die omstandighede by die New Brighton-lykshuis is haglik. Rotte vreet selfs aan die liggame van die gestorwenes.
En tweedens skryf die koerant oor die malligheid wat losgebars het om die pienk Discovery Vitality-trollie by die Checkers Little Shop-versameling te voeg.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die NVG in KwaZulu-Natal sê hulle is van plan om toe te slaan op diegene wat nie kinderonderhoud betaal nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Beig twee minderjarige kinders moes in 2021 toekyk hoe hul ma se lewensmaat haar met ’n mes doodsteek. Hy is Vrydag skuldig bevind aan haar moord.
En tweedens skryf die koerant ná 58 jaar aan bewind het die voormalige president van Botswana, Mokgweetsi Masisi, en die Botswana Democratic Party, dié land se verkiesing verloor.