Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig inflasie het in September vir die vierde agtereenvolgende maand verlangsaam en die laagste vlak sedert Maart 2021 bereik. Die verwikkelinge laat volgens die koerant die hoop opvlam vir verdere rentekoersdalings.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan die arrestasie van die vermeende swendelaar en baasbrein agter die beweerde diamantbedrogskema Forever Diamonds and Gold, Louis Liebenberg en nog agt ander. Die groep, insluitend Liebenberg se vrou Dezzi, sal na verwagting vanoggend in die Landdroshof in Bronkhorstspruit verskyn op verskeie aanklagte van bedrog, geldwassery en rampokkery.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die weelderige lewe van die Vrystaatse premier, Maqueen Letsoha-Mathae is ontbloot in ‘n korrupsie-ondersoek.
En berig die hele Suid-Afrika is geskok oor die skeiplanne van die Kolisi-egpaar.
# En Sowetan:
Berig ‘n Soweto-meisie, Amantle Samane was op die punt om van die kleuterskool af volgende jaar met graad een te begin toe sy ontvoer en vermoor is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en staan ook sy voorblad af aan die Liebenberg-saga.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Liebenberg se arrestasie en hofverskyning vandag.
En tweedens word berig die Universiteit Stellenbosch en die Vereniging vir die bevordering van Wilgenhof-inwoners het ‘n ooreenkoms bereik wat moontlik ‘n hofsaak oor die koshuis se toekoms kan uitskakel.
# En Cape Times:
Skryf president Ramaphosa het die DA gewaarsku om in hul baan te bly.
En berig die Gautengse premier Panyaza Lesufi het na bewering gesê hy is nog nie gereed om die ANC te lei nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die dodetal ná die oorstroming in Nelson Mandelabaai het tot vier gestyg terwyl opruiming steeds aan die gang is. Daar word nou ook ‘n beraming van stormskade gedoen.
En tweedens skryf die koerant Nelson Mandelabaai se gesondheidsorg is in die soeklig nadat dit bekend geword het fondse wat bedoel was vir noodsaaklike pasiëntsorg is gebruik om personeel se salarisse te betaal.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die gemeenskap van Phoenix is omgekrap omdat vuurwerk wat vir Diwali bestem was uit ‘n plaaslike tempel gesteel is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ma van ‘n dogter wat deur haar pa verkrag is, het in die hof getuig sy het verwag hy sou haar soos ’n pa beskerm. Die man is skuldig bevind.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese Mededingingskommissie sê sy ondersoek na klagtes teen die Windhoek-munisipaliteit se rekeningpraktyke is afgehandel.