Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het probeer om steun by BRICS-lande te kry vir die regering van nasionale eenheid. In bilaterale samesprekings met president Vladimir Putin het die president gesê die bestuursveranderinge is bedoel om die land te verenig en te stabiliseer.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg en sy vrou, Dezzi, is gisteraand by die Tonino-restaurant by die Benoni-buiteklub deur die Valke in hegtenis geneem.
En tweedens skryf die koerant die eertydse draaibouler van die Proteas, Gogga Adams het die Protea-vroue se deelname aan die T20-Wêreldbeker-toernooi geprys.
# The Star & Pretoria News:
Skryf daar is kommer oor die kinderverkragtingsyfer in Suid-Afrika.
En berig tweedens die Johannesburgse Metro is besig om die oortreders van munisipale verordeninge vas te vat.
# Sowetan:
Berig oor Onthatile Sebati wat tot 25 jaar gevangenisstraf vonnis is vir die moord op haar ouers, broer en suster. Sy het haar twee neefs 100-duisend-rand betaal om haar gesin met haar pa se vuurwapen dood te skiet.
# En The Citizen:
Skryf vier uit vyf van Johannesburgse 702 brûe is in ‘n swak of gevaarlike toestand. Outa sê die geld is beskikbaar om dit te herstel, maar word verkeerd aangewend.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens ‘n skoolmeisie van Theunissen is op pad huis toe deur weerlig doodgeslaan.
Dan skryf die koerant ook oor die inhegtenisneming van Louis en Dezzi Liebenberg.
Vervolgens word berig die Springbokkaptein Siya Kolisi en sy vrou Rachel het aangekondig dat hulle ná nege jaar besluit het om te skei. Hulle sê die besluit is geneem uit liefde, respek en begrip dat dit die beste pad vorentoe vir beide van hulle is.
En laastens is daar nuus oor die voorval in Bultfontein waartydens twee betreders na bewering aangerand is. Volgens berigte het ‘n tweede verdagte by die polisie aangemeld.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n geskeide pastoor van Hartenbos, Jacob Maré het na bewering spoorloos verdwyn nadat hy sy dogter, die negejarige Yaleen, by die skool opgelaai het.
Tweedens skryf die koerant ook oor die Liebenberg-arrestasie.
En laastens word berig die Wêreldgesondheidsorganisasie het Egipte ná byna ‘n eeu as malaria-vry verklaar.
# En Cape Times:
Skryf die Parlement is gewaarsku dat Transnet op die rand van ineenstorting is.
En berig reëlings word getref vir matrieks wie se eksamen deur oorstromings geraak is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha
Berig oor twee voorvalle waar inwoners van Nelson Mandelabaai tydens die oorstromings elektriese skokke opgedoen het toe hulle aan kragkabels in die water geraak het.
En tweedens skryf die koerant twee kinders van die Baai wat in September as afsonderlike noodgevalle in Kaapstad se Rooikruis-kinderhospitaal opgeneem is, is weer tuis.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf talle toeriste het besluit om Durban as vakansiebestemming te vermy en daar is ‘n dringende beoep om die stad se strande weer tot Blouvlag-status op te gradeer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Justisie beoog om die vertragings met die afhandeling van boedels te verbeter deur die wet te herroep en te wysig.
Dan skryf die koerant ‘n bekende sakeman se vrou het die Namibiese Inkomstediens gedagvaar omdat hulle glo van haar bankrekeninge gevries het. NamRA beweer haar man se onderneming skuld meer as 20-miljoen-rand in BTW, rente en boetes.
En laastens is daar nuus oor ’n groep vrywilligers wat weerloses oor die Kerstyd bereik.