Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die regering se kantoor vir onafhanklike kragprodusente het voorkeurbieërs wat nie hul beloftes nakom nie gewaarsku dat hul aansienlike bedrae kan verloor.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig Michèle Mitchell wie se seun die Matie-student Jesse Mitchell op sy 19-jarige verjaarsdag vermoor is, sê dis steeds onwerklik dat sy haar seun verloor het.
En tweedens skryf die koerant die klas van 24 sê hulle het lekker geskryf aan hul eerste vraestel naamlik Engels huistaal of addisionele taal.
# The Star & Pretoria News:
Skryf sogenaamde fop-kos wat in Pakistanse winkels verkoop word, is in die soeklig en intussen duur die soektog voort na die chemiese middel wat die voedselvergiftiging veroorsaak het.
En tweedens word berig die Johannesburgse Metropolisie is van plan om dronkbestuur aan bande te lê.
# Sowetan:
Berig ‘n man van Tshwane wat deur ‘n motor-advertensie op Facebook mislei is sê hy is ontvoer en 77-duisend-rand is uit sy rekening onttrek terwyl hy aangehou is.
# En The Citizen:
Lei met: “AIR SPACE ALARM”. Die koerant skryf daar is talle vrae oor lugverkeerbeheer in Suid-Afrika. Werknemers in beheerkantore sê daar is rede tot kommer oor ou toerusting wat nie in stand gebou word nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die boeregemeenskap van Bultfontein is omgekrap omdat ‘n plaaslike landelike wag in hegtenis geneem is nadat hy na bewering twee betreders aangerand het. André van Rensburg het gister in die plaaslike Landdroshof verskyn.
En tweedens skryf die koerant leerders by die Hoërskool Fichardtpark het ondersteuning ontvang na die skielike afsterwe van die graad 11-leerder Louhen Bergh.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Daniel Smit het in die rondgaande hof in Vredendal getuig hoe hy die 13-jarige Jerobejin van Wyk vermoor het. Hy het hom glo eers ‘n koeldrank en toebroodjie gegee.
En tweedens is daar nuus oor die verdrinking van ‘n Matie-student, die 19-jarige Nkosana Dhlamini in die Coetzenburgdam.
# En Cape Times:
Skryf die verdwene Joshlin Smith se ma, Racquel Chantel Smith, vorm die sentrale punt in die staat se mensehandelsaak.
En berig ook oor Daniel Smit se getuienis oor die moord op Jerobejin van Wyk.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai worstel met oorstroomde strate, wydverspreide kragonderbrekings en gefrustreerde inwoners ná stortreën ontwrigting veroorsaak het.
En tweedens skryf die koerant misdadigers en rondlopers het begin om die verlate Damelin-kampusgebou in Walmer af te breek en dit steen vir steen te stroop.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die IVP het die Oppenheimer-skenking aan die party verdedig.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n verbod is geplaas op die uitvoer van lewende witrenosters vir teeldoeleindes vanaf Namibië na gebiede buite hul natuurlike habitat.
En tweedens skryf die koerant Swakop Uranium se belegging van meer as 17-miljard-rand is steeds die grootste enkele Chinese belegging in Afrika. Die land wil verdere beleggings in Namibië doen.