Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig aanvallers het die regsadviseur van ‘n Mosambiekse presidensiële kandidaat, Elvino Dias en ‘n senior partybeampte, Paulo Guambe op een van die hoofstad se hoofweë doodgeskiet. Die opposisieparty Podemos sê spanning is besig om toe te neem te midde van betwiste verkiesingsuitslae.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ’n oud-Johannesburger se fietsryvriende het die naweek in Seepunt, Kaapstad, bymekaar gekom om sy lewe te vier nadat hy in ’n ongeluk dood is. Die 42-jarige Jono Cloete is dood toe ’n motor en ’n vragmotor sy fiets sowat 10 km buite Stellenbosch getref het. Cloete was in 2021 ook in ‘n ernstige ongeluk betrokke.
Dan skryf die koerant hoewel dit nie vir die Protea-vrouekrieketspan se nederlaag in die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vergoed nie, was Laura Wolvaardt die toernooi se voorste lopiemaker.
En ten slotte word berig die voormalige burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda is op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem. Hy het reeds in die Protea-landdroshof verskyn.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die polisie se hulp sal ingeroep word om ondersteuning te bied tydens die matriekeksamen wat vandag begin.
En berig die MK-party het die reëls vir partylede uitgestippel.
# Sowetan:
Lei met: “THE GWAMANDA HEADACHE”. Die koerant berig die korrupsie-aanklagte teen die voormalige burgemeester van Johannesburg is ‘n reuseprobleem vir die Al Jama-ah-party.
# En The Citizen:
Skryf Nasionale Gesondheidsversekering veroorsaak die grootste verdeeldheid tussen die ANC en DA in die regering van nasionale eenheid.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die skielike afsterwe van ‘n graad 11-leerder van die Hoërskool Fichardtpark, Louhen Bergh die afgelope naweek. Die oorsaak is nog nie bekend nie.
En tweedens skryf die koerant Eskom sê hy het vyf jaar laas beurtkrag vir so lank opgehef. Die tydperk staan nou op 200 dae.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens ook oor die dood van die fietsryer Jono Cloete en berig tweedens ook oor die opheffing van beurtkrag.
# En Cape Times:
Skryf vier verdagtes sal vandag in die hof verskyn vir die moord op die 19-jarige Stellenbosse student Jesse Mitchell.
En berig ook oor die Protea-vroue se nederlaag in die T20 Wêreldbeker.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ná weke van intense studiesessies, kom die 2024-matriekklas nou voor die uiteindelike uitdaging te staan.
En tweedens skryf die koerant met die komende feestyd op pad sukkel bed-en-ontbyt-eienaars in die township te midde van voortdurende inbrake, verlammende eise vir beskermingsfooie en toeriste wat die gebied vermy.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf Diwali, ook bekend as die Hindoe-fees van ligte sal dalk eersdaags ‘n openbare vakansiedag wees.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig kritiek is teen die Verkiesingskommissie van Namibië gelewer oor bewerings van korrupte optrede in die toekenning van die kontrak vir die druk van stembriewe vir die komende verkiesing.
En tweedens skryf die koerant drie mense is dood en vier is in die hospitaal opgeneem ná ’n botsing reg van voor by die informele nedersetting Nambi op die B10-pad in die Kavango-Wes-streek.