Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa sê die regering is daartoe verbind om die motorbedryf te ondersteun. Dié bedryf het in 2023 5,3-persent tot die BBP bygedra en was teen 270,8-miljard-rand verantwoordelik vir byna 15-persent van Suid-Afrika se uitvoere.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die DA is nie die grootste bedreiging vir die regering van nasionale eenheid nie. Interne ANC gevegte is baie gevaarliker.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Matie-student Jesse Mitchell was net drie uur lank 19 jaar oud voordat hy op sy verjaardag, vroegoggend in Stellenbosch beroof en doodgesteek is op pad terug na sy woonstel. Die polisie het ‘n 19-jarige man in hegtenis geneem in verband met die moord.
En tweedens skryf die koerant die Nasionale Dieretuin in Pretoria is tans besig om die infrastruktuur op te knap. Die dieretuin is vanjaar 125 jaar oud en het meer as vier-duisend-200 diere – van reënwoud-tarantulas tot tiere en leeus.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die EFF is besig om al hoe meer lede te verloor.
En berig terwyl Johannesburg ‘n tekort aan gesondheidsinspekteurs het, gaan die plundering van spaza-winkels wat aan buitelanders behoort voort.
# Sowetan:
Berig die ondersoekbeampte in die Senzo Meyiwa-moordsaak, brigadier Bongani Gininda, het getuig DNS-bewyse, ooggetuieverklarings, en selfoon- en netwerktoringbewyse is van die faktore wat hom oortuig het daar was indringers in die Vosloorus-huis die aand wat Meyiwa vermoor is.
# En The Citizen:
Skryf daar is reeds sowat 21,4-miljard-rand met behulp van die twee-pot-stelsel uit pensioenfondse onttrek. Dit word hoofsaaklik aangewend om skoolfondse te betaal en skuld te delg.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n derde senior bestuurder van die Mangaung-metro is vermoor. Die jongste slagoffer is die tegniese bestuurder van Water en Sanitasie, Luzuko Ntlabezo, wat in sy motor naby sy werk doodgeskiet is. Die verdagte het in ‘n wit Nissan NP200-bakkie weggejaag en die polisie het nog niemand in hegtenis geneem nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die moord op die 19-jarige Jesse Mitchell van Stellenbosch.
En tweedens word berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê internasionale rugbyreëls verhoed hom om in te meng by die omstrede transaksie tussen SARU en die Ackerley Sports Group. Hy sê hy kan wel ‘n pleidooi lewer.
# En Cape Times:
Skryf die polisie is op soek na nog verdagtes in die Lusikisiki-slagting.
En berig die Protea-vroue is op die vooraand van ‘n geskiedkundige oorwinning in die T20 Wêreldkampioenskap.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig afpersingsidikate teiken nou selfs kinders. Sommige leerders van KwaNobuhle word gedwing om beskermingsgeld te betaal op die pad wat hulle gebruik om skool toe te stap.
En tweedens skryf die koerant die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit slaan toe op grondeienaars wat soneringverordeninge oortree. Boetes beloop tot 35-duisend-rand per oortreding.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n onlangse operasie om die middestad van eThekwini op te ruim is as tevergeefs bestempel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig duisende inwoners van Rundu is sonder betroubare watertoevoer gelaat weens die huidige waterkrisis wat al lankal dreig.
En skryf tweedens ’n 54-jarige man is gister in die Hoërhof in Windhoek skuldig bevind aan die verkragting van sy dogter en bloedskande.