Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig SuperSport het SARU veroordeel oor die manier waarop die organisasie gesprekke gevoer het om 20-persent van die Bokke se handelsregte aan die Ackerley Sports Group te verkoop. Die uitvoerende hoof van SuperSport, Rendani Ramovha sê dit is onduidelik waarom hulle nie by die samesprekings betrek is nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die voormalige ANC-woordvoerder, Pule Mabe, het opsy gestaan as lid van die party se nasionale uitvoerende komitee nadat hy van bedrog en geldwassery aangekla is. Dit hou verband met ‘n tender van 27-miljoen-rand wat sy maatskappy Enviro Mobi in 2017 na bewering onregmatig ontvang het.
Tweedens skryf die koerant die komeet C/2023 A3 ook bekend as Tsunchinshan-Atlas kan nog tot Sondag deur Suid-Afrikaners waargeneem word.
En laastens is daar nuus oor Sanral wat vanjaar reeds 12,8-miljoen-rand meer as die vorige boekjaar uitbetaal aan motoriste wat oor voertuigskade weens slaggate eis.
# The Star & Pretoria News:
Skryf ook oor Mabe se besluit om opsy te staan.
En berig oor Busisiwe Mkhwebane se redes vir haar bedanking uit die EFF.
# Sowetan:
Berig die broers wat deur Eswatini uitgelewer is om tereg te staan vir die moord op die kletsrymer AKA, Siyabonga en Malusi Ndimande het ter elfder uur ‘n appèl teen hul uitlewering ingedien.
# En The Citizen:
Skryf oor die standpunt van die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie dat straatname nie verander moet word om ‘n wit minderheid seer te maak nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die haglike omstandighede by die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg, se myn in Koingnaas. Werknemers ontvang na bewering nie hul salarisse nie. Die koerant berig Liebenberg het diegene wat met die media gepraat het glo gedreig.
Vervolgens skryf die koerant oor Vrystaatse dorpe wat waterprobleme ondervind nadat die Lesotho-Hoogland-tonnel gesluit is.
En laastens is daar ook ‘n berig oor motoriste se eise vir slaggate.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die liggaam van ‘n vermoorde Matie-eerstejaarstudent wat in Stellenbosch gevind is. Hy is met ‘n mes in die nek gesteek. Die polisie sê hulle ondersoek die motief vir die moord, maar dit lyk of die oorledene se fiets gesteel is.
Dan skryf die koerant meer as ‘n duisend klagtes is in ‘n jaar teen Wes-Kaapse onderwysers ingedien. Vier-en-dertig is afgedank en 17 is onskuldig bevind.
En laastens word berig ‘n slang wat as ongenooide gas by die prysuitdelingsgeleentheid van die Meiringspoort-marathon opgedaag het, het die verrigtinge ontwrig.
# En Cape Times:
Skryf ook Mabe moet teregstaan op tender-bedrogaanklagte van 27-miljoen-rand.
En berig oor die polisie se deurbraak in hul ondersoek na die Lusikisiki-slagting.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Algoa Bus Company het sy sekuriteit opgeskerp nadat dit aan die lig gekom het dat daar beskermingsfooie van sy werknemers vereis word. Twee werknemers van die maatskappy is in twee dae doodgeskiet.
En tweedens skryf die koerant dit kan jare neem om beskadigde kanale, begraafplaas- en stortingsterreintoegangspaaie, ‘n voetbrug en afvalwatersuiweringswerke te herstel na die oorstromings.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar word ondersoek ingestel na bewerings van seksuele aanranding in die ingenieursdepartement van die Universiteit van KwaZulu-Natal.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
(Daar is vanoggend ongelukkig geen digitale weergawe van die koerant aanlyn beskikbaar nie.)