Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het vir die tweede keer getwyfel aan die ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg en Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars en het dit na die Konstitusionele Hof verwys vir hersiening.
GAUTENG:
# Beeld:
Fokus eerstens op die voorgestelde transaksie tussen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie en die Amerikaanse belegger, Ackerley Sports Group wat uit talle oorde gekritiseer word. Bewerings oor ’n reuse-kommissiebetaling aan ’n maatskappy waarvan die voormalige Formule Een-spaneienaar, Eddie Jordan die voorsitter is, het rooi ligte laat flikker.
Dan skryf die koerant donderstorms in die noorde van die land het broodnodige verligting gebring, maar dit sal waarskynlik die enigste reën wees wat dié gebied vir ’n wyle sal ontvang.
En laastens is daar nuus oor die 57-jarige Alison Botha wat 30 jaar gelede ’n gru-aanval in Gqeberha oorleef het. Sy herstel tans in ‘n hospitaal ná ’n brein-aneurisme.
# The Star & Pretoria News:
Skryf drie mans van Soweto wat hul niksvermoedende slagoffers op die afspraak-app, Grindr uitgelok en beroof het, doen aansoek vir borgtog.
En berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het aan die DA gesê hy het niks om weg te steek nie.
# Sowetan:
Berig oor geheime samesprekings wat die koerant bygewoon het met ‘n vermeende swendelaar waartydens intimidasie en dreigemente gebruik is om beskerming te verleen vir ‘n bouprojek van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie. Die koerant skryf Eric Thokwana het vorige hofbevele teen hom omdat hy sakeondernemings en werkers gedreig het.
# En The Citizen:
Skryf oor oudpresident Thabo Mbeki se verslag waarin hy bevind die klagtes van rassisme by Pretoria Girls High is deur die Gautengse Departement van Onderwys versin om die skool in ‘n slegte lig te plaas.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n eerstejaarstudent van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, Jessica Mc Gowan is skielik oorlede nadat sy die naweek met aansteeklike breinvliesontsteking gediagnoseer is.
En tweedens berig die koerant ook oor die Saru-transaksie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei soos Beeld met die Saru-transaksie.
Dan word berig die Departement van Minerale Bronne en Energie het die aansoek afgekeur van ‘n maatskappy wat buite Napier in die Overberg vir goud wou prospekteer.
En laastens skryf die koerant die Franse en Italiaanse polisie het toegeslaan op ‘n sindikaat wat wynbedrog gepleeg het deur vals etikette op bottels te plak.
# En Cape Times:
Skryf die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, onderneem om die onderwyserafdankings op ys te plaas.
En berig die stryd om ‘n opvolger vir Ramaphosa te vind het reeds begin.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die geskorste stadsbestuurder van Nelson Mandelabaai, Noxolo Nqwazi, is bereid om ‘n skikkingsooreenkoms te beding om haar pos te ontruim.
En tweedens skryf die koerant Maurice Butlion van Gqeberha het aangevoer die gevolge van die Covid-19-pandemie, werkloosheid en die vooruitsig van finansiële ondergang het hom oortuig om sy ma wat met kanker gediagnoseer is, te vermoor.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n positiewe verslag oor eThekwini se finansiële vooruitsigte is uit talle oorde gekritiseer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig leraars en ander kerklidmate word landswyd al hoe meer by voorvalle van verkragting en moord betrek, met talle voorvalle veral in die noordelike streke.
Dan skryf die koerant ondanks die waarborg van 1,2-miljard-rand wat vroeër vanjaar deur die regering verskaf is, staar die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië steeds finansiële risiko in die gesig.
En laastens is daar nuus oor die Namibiese sangeres Landi Bonthuys wat naam gemaak in Amerika met ’n prys by die Texas Sounds International Country Music Awards.