Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago sê Tito Mboweni was onwrikbaar in sy verdediging van die Reserwebank gedurende sy tyd as minister van finansies, en het dit teen herhaalde politieke aanvalle verdedig. Hy het ook ‘n verbintenis tot fiskale dissipline gehandhaaf.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die moordsaak van die 33-jarige Natasha Barnard van Fochville wat by ‘n plaaslike kroeg aangerand is. Haar ma, Frieda Senekal het getuig hoe sy op haar dogter se liggaam afgekom het.
Dan skryf die koerant brullende enjins en juigende ingenieurs het SpaceX se jongste mylpaal met sy vyfde Starship-toetsvlug gekenmerk.
En laastens word berig die voortslepende waterkrisis in Polokwane het die regter-president van Limpopo genoop om ’n opdrag uit te reik dat die Hooggeregshof voortaan slegs vir vyf ure per dag in sitting sal wees.
# The Star & Pretoria News:
Skryf oudpresident Jacob Zuma het die ANC gekritiseer omdat die party volgens hom die vordering wat sedert 1994 gemaak is omgekeer het.
En berig oor die wye kritiek op die NVG se besluit oor Phala Phala.
# Sowetan:
Berig die oorlede bokser Dingaan Thobela se pa, Godfrey, gaan hof toe en eis vaderskaptoetse om te bewys die Rose of Soweto het 10 kinders verwek.
# En The Citizen:
Skryf volgens ‘n kenner is die ANC se top-sewe bang om Panyaza Lesufi te verloor aan die MK-party en sal liewer vir Fikile Mbalula opoffer.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig werknemers by die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg se diamantmyn in Koingnaas ontvang na bewering geen lone of kos nie.
Dan skryf die koerant 12 gastekamers by die luukse Kopano Nokeng-gastehuis en konferensiesentrum naby die Bram Fischer Internasionale Lughawe buite Bloemfontein is in ‘n brand verwoes.
En laastens word berig die gesin van Clayton Lauwrence wat in ‘n motorongeluk op pad na Bloemfontein dood is, se hond Diego is lewend gevind.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig dit het in die onderhoude van die Regterlike Dienskommissie aan die lig gekom dat daar ernstige tweespalt in die Kaapse afdeling van die Hooggeregshof is.
Dan is daar nuus oor produkte soos Vyf Rose en ProVita wat sukkel om op kleinhandelsrakke te oorleef.
En laastens word berig ‘n Britse sosialemedia-inhoudskepper is dood toe hy van ‘n brug in Spanje afgeval het.
# En Cape Times:
Skryf die leier van ActionSA, Herman Mashaba sê dis belangrik dat hulle die eerste party was wat die DA aangeval het.
En berig adjunkpresident Paul Mashatile sê openbare gevegte strek tot nadeel van die regering van nasionale eenheid.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is in ‘n stryd teen tyd gewikkel om sy sukkelende geïntegreerde openbare vervoerstelsel te red en die volgende fase van KwaNobuhle na Kariega in te stel.
En tweedens, skryf die koerant met minder as ‘n week oor voor die finale matriekeksamen, sukkel skole in sommige van Nelson Mandelabaai se mees behoeftige gebiede om bykomende lessenaars te vind en elektrisiteitsprobleme te herstel.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ook oor Zuma se kritiek teen die ANC oor die nalatenskap van 94.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig sedert hul inhegtenisneming in 2002 is sewe mans wat ’n gewapende opstand teen die regering in die Zambezistreek beplan het, uiteindelik gevonnis.
Dan skryf die koerant die kandidatuur van Swapo se visepresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah, vir die komende verkiesing, is gister deur vyf partylede in die Hoërhof in Windhoek uitgedaag.
En laastens word berig Namibia Wildlife Resorts het aangekondig dat daar van vandag af ’n beduidende verandering in sy pendeldiensbedrywighede in die Sossusvlei-gebied sal wees.