Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Sibanye-Stillwater kan ná ‘n hofuitspraak moontlik aanspreeklik wees vir 21-miljard-rand as vergoeding aan ‘n Britse privaat-ekwiteitsfirma. Die uitspraak beëindig die eerste deel van die dispuut tussen Sibanye en die Britse Appian Capital Advisory.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf ‘n groep jong mense neem die voortou in ‘n klimaatsaak wat die staat se steenkool-elektrisiteitsplanne uitdaag.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die polisie ondersoek ‘n vrou wat bekend staan as Michelle Baasden of De Bruyn wat na bewering geld wat sy ingesamel het vir ‘n eenjarige hartlyer van Koster, nie oorbetaal het nie. Daar is na bewering 60-duisend-rand ingesamel maar slegs 900-rand oorbetaal.
Dan skryf die koerant Suid-Afrika se UFC-kampioen, Dricus du Plessis gaan weer teen Sean Strickland te staan kom, maar die geveg gaan moontlik in Australië aangebied word.
En laastens bring die koerant in ‘n foto-montage hulde aan die uittredende Rafael Nadal.
# The Star & Pretoria News:
Skryf daar is groeiende kommer oor voedselsekerheid nadat vyf kinders in Naledi aan voedselvergiftiging dood is.
En berig minister Senzo Mchunu het oorlog verklaar teen korrupsie in die polisie.
# Sowetan:
Berig toetse toon ‘n giftige chemiese stof wat in rotgif aangetref word, het gelei tot die dood van die vyf kinders in Naledi.
# En The Citizen:
Skryf die presidensiële mediese eenheid en die mediese dienste vir ander senior regeringslui kos die belastingbetaler ‘n miljoen rand per persoon per maand.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die cholera-gevaar in die Noord-Kaap en tweedens is daar ‘n berig oor 30 leerders wat al hul besittings verloor het in ‘n koshuisbrand.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Wes-Kaapse boer, Nicolus van Eeden wat in die VSA in ‘n veldbrand omgekom het, sal daar veras word. Sy familie sê hulle het vrede gemaak met sy dood.
Dan skryf die koerant die beskermingseenheid vir hooggeplaastes het die afgelope twee jaar 360-miljoen-rand aan oortyd geëis.
En laastens word berig die gevangenis in Oudtshoorn het onder kabeldiewe deurgeloop.
# En Cape Times:
Skryf die Nasionale Vervolgingsgesag in Limpopo het besluit om nie vir president Cyril Ramaphosa in verband met die Phala Phala-kwessie te vervolg nie.
En tweedens word berig verlore en gesteelde wapens is ‘n reuseprobleem vir die polisie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n koalisie tussen die ANC en die DA in Nelson Mandelabaai lyk onwaarskynlik aangesien gesprekke tussen die partye vasgeval het.
En tweedens skryf die koerant die jarelange stryd tussen ‘n Oos-Kaapse boer en ‘n natuurbewaarder oor ‘n dooie ystervark en bobbejaan in ‘n hok is uiteindelik op die spits gedryf.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die waterplanne wat voorgestel is vir eThekwini is as kortsigtig bestempel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig sowat 16 leerders van die Laerskool Nahas Ndevahoma in die Ohangwenastreek is in besit gevind van selfgemaakte AK47-gewere en lewendige ammunisie. Die jongste is agt jaar oud.
Dan skryf die koerant die ministerie van Myne en Energie aanvaar sedert September nie meer aansoeke van Namibiese kleinmynbouers nie.
En laastens is daar nuus oor die Windhoekse Lions-klub wat ’n skenking van 60 brilrame vir kinders en babas ontvang het.