Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Tshwane sal na verwagting vandag ‘n nuwe burgemeester verkies te midde van onsekerheid of die ANC genoeg stemme sal kry om sy kandidaat en voormalige streekvoorsitter, Kgosi Maepa, as die metro se eerste burger te laat verkies. Die ANC sal die steun van sy vennote, insluitend die EFF en ActionSA, nodig hê.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi is weer in die moeilikheid nadat dit aan die lig gekom het dat hy na bewering betrokke was by die beweerde toesmeerdery van korrupsie, geldwassery en bedrog. Dit hou verband met geld wat aan die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling oorbetaal is.
Tweedens is daar nuus oor Zoalize Jansen van Rensburg wat as Mej. Wêreld Suid-Afrika gekroon is. Sy sê sy beskou dié kroon as die grootste geskenk tot nog toe.
En laastens skryf die koerant daar is talle vrae oor Namibië se besluit om 42 witrenosters na Texas uit te voer. Die land het moontlik die Konvensie oor die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies oortree.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die ANC wil geen besonderhede bekend maak oor sy kandidate vir Tshwane-burgemeester nie.
En berig die polisie is besig om oudlede te werf om te help met speurwerk.
# Sowetan:
Berig die families van die kinders wat ‘n jaar gelede vergiftig is, het steeds nie volle besonderhede oor die voorval nie. Die betrokke winkeleienaar het ook na bewering aanhou handel dryf sonder enige optrede teen hom.
# En The Citizen:
Skryf die polisie het op onder meer 40 mortierbomme en ander toerusting afgekom wat in ‘n agterplaas van ‘n huis in Springs begrawe was. Daar is nog nie veel besonderhede bekend oor die sogenaamde versamelaar nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig Jessica Marike en haar man Petrus Willem Janse van Nieuwenhuis het in die Hooggeregshof in Bloemfontein verskyn in verband met beweerde belastingbedrog van meer as 64-miljoen-rand.
Dan skryf die koerant ‘n ma en drie van haar vriende het in die hof verskyn nadat die Pelonomi-hospitaal tydens ‘n mediese ondersoek vasgestel het haar tweejarige seuntjie word mishandel.
En laastens is daar nuus oor die Universiteit van die Vrystaat se netbalspan wat die Varsity-beker vir die vyfde keer verower het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n oudleerder van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, die 26-jarige Nicolus van Eden, is in ‘n veldbrand op ‘n plaas in Noord-Dakota in die VSA dood.
En tweedens skryf die koerant oor die swart springbokkie, Charkie wat by die Kingswood-gholflandgoed in George gebore is.
# En Cape Times:
Berig die geskil tussen Helen Zille van die DA en Panyaza Lesufi van die ANC is besig om die regering van nasionale eenheid te skeur.
En skryf die polisie is vol vetroue hulle gaan binnekort ‘n deurbraak maak in hul ondersoek na die jongste skietvoorval in die Oos-Kaap.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig meer as 10 jaar nadat bouwerk aan die Sarah Baartman Sentrum van Herinnering begin is, is dit nadat 247-miljoen-rand daaraan bestee is, steeds nie voltooi nie.
En tweedens skryf die koerant die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika sê die vergroeningsiekte wat in 2023 vir die eerste keer in Gqeberha ontdek is, hou geen bedreiging vir die sitrusuitvoerbedryf in nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf kenners is van mening ingrypende maatreëls om bedrog te bekamp is nodig om KwaZulu-Natal se benarde finansiële posisie aan te spreek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig dorpe wat voorheen uitgesluit is van die voorwaardelike basiese inkomstetoelae, sal vanaf hierdie maand ingesluit word.
Dan skryf die koerant die selfverklaarde profeet en veroordeelde renosterstroper, Jackson Babi, en sy vrou Maria is tans in ’n egskeidingsaak gewikkel.
En laastens is daar nuus oor die Windhoek-brandweer se program vir Internasionale Brandveiligheidsweek.