Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Tshwane-metro gaan Woensdag ‘n nuwe burgemeester verkies nadat Cilliers Brink, wat die pos vir 18 maande beklee het, op 26 September uitgestem is. Die ANC praat glo met die Vryheidsfront Plus om steun voor die spesiale raadsvergadering te verseker.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die aanwysing van ‘n nuwe burgemeester vir Tshwane. Die koerant berig die leier van die VF Plus, minister Pieter Groenewald het bevestig sy party gaan nie die ANC teen die DA steun om ’n nuwe burgemeester in die metro aan te wys nie.
Dan skryf die koerant oor die Red Bull Showrun wat gistermiddag die verbeelding van duisende toeskouers in Sandton aangegryp het.
En laastens word berig oor die skielike afsterwe van die 59-jarige leier van die VF Plus in Limpopo, Marcelle Maritz. Sy is by haar woning in Mokopane oorlede.
# The Star & Pretoria News:
Skryf Suid-Afrika se lewenslange vonnisse toon ‘n skerp styging.
En berig tweedens Suid-Afrikaanse boere is onder druk om produkte te lewer.
# Sowetan:
Berig adjudant-offisier John Mokoena het die sluier gelig oor sy nege jaar lange ondersoek wat slapelose nagte, honderde DNS-toetse en meedoënlose polisiewerk geneem het om Nkosinathi Phakathi, wat meer as 90 slagoffers verkrag het, in hegtenis te neem.
# En The Citizen:
Skryf hoewel Eskom daarin geslaag het om die nasionale kragnetwerk te stabiliseer het hy steeds ‘n probleem met ‘n reuse-skuldlas.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, Thembi Simelane het berigte in die Sondagkoerante ontken dat president Cyril Ramaphosa bewus was van haar VBS-lening.
Dan skryf die koerant ‘n 30-jarige onderwyser van Bloemfontein sal in die hof verskyn nadat hy na bewering ‘n matriekleerder verkrag het.
En laastens is daar nuus oor die afsterwe van die 90-jarige Hendrik Smith. Hy was oud-LP vir Smithfield en ministriële verteenwoordiger vir die Vrystaat.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor twee onverwante ontvoerings in die Boland die naweek. In een voorval is ‘n 84-jarige Britse vrou in Robertson ontvoer en in die ander ‘n 20-jarige Matie-student in Stellenbosch. Die student se ouers het ‘n losprys betaal en die ontvoerders in beide gevalle is in hegtenis geneem.
En tweedens skryf die koerant oor strandgangers wat ‘n vrou en haar kind uit die see by Bloubergstrand gered het.
# En Cape Times:
Skryf oor die ontsetting van die Britse burger wat ontvoer is.
En berig oor die drie verdagtes wat vandag in verband met die Lusikisiki-slagting in die hof verskyn.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig dele van Nelson Mandelabaai was die naweek sonder krag as gevolg van die onbeskermde staking van munisipale werkers.
En tweedens skryf die koerant die hoof van die Hoërskool Paterson in Schauderville, Rose de Doncker is vereer vir haar bydrae tot onderwysbestuur.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor ‘n opmars ter ondersteuning van die Palestynse saak wat in eThekwini gehou is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ses jaar ná die grusame moord op die 79-jarige Giel Botma en sy 80-jarige vrou, Sarie, is twee mans Vrydag skuldig bevind.
Dan skryf die koerant twee groot tente is die afgelope naweek opgerig om tydelike verblyf te bied aan die slagoffers van ’n brand wat verwoesting gesaai het in ’n informele nedersetting naby Otweya in Kuisebmund.
En laastens is daar ‘n berig oor die 23-jarige Andries van Veen van Namibië wat as die wenner van die Miljoenrand-idee op Via aangewys is.