Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig vertroue onder siviele kontrakteurs het volgens ‘n FNB-indeks sy beste vlak in agt jaar bereik. Daar heers egter steeds kommer oor die skadelike uitwerking van konstruksie-mafias.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan die Bokke se kragmeting teen die Argentynse Pumas. Die koerant gee veral aandag aan Eben Etzebeth se 128ste toetswedstryd. Die Springbokke het met 48-7 geseëvier.
# The Star & Pretoria News:
Berig daar is nog ‘n dwelmsmokkelaar by die OR Tambo Internasionale Lughawe vasgetrek en die polisie sê hulle maak goeie vordering op die gebied.
# Sowetan:
Berig die eggenoot van een van die vrouens wat in die Lusikisiki-massamoord in die Oos-Kaap doodgeskiet is, Ndabazakhe Mhlawulivela sê haar waarskuwing oor die aanval op die Sinqina-gesin het sy lewe gered. Agtien mense is in die voorval doodgeskiet.
# En The Citizen:
Skryf die DA eis dat die ANC die voormalige Tshwane-burgemeester, Cilliers Brink in sy amp herstel. Die party sê indien dit nie gebeur nie, gaan hy nie die ANC in ander munisipaliteite ondersteun nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n 65-jarige langafstand-atleet van Bloemfontein, Charmaine van der Walt het tydens ‘n wedloop in die Oos-Kaap verkluim nadat sy haar baadjie vir ‘n ander atleet gegee en verdwaal het.
Dan skryf die koerant vier verdagtes is in hegtenis geneem vir die moord op die 81-jarige Hendrik Venter van Kuruman.
En laastens is daar ook nuus oor Etzebeth se 128ste.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad oor Charmaine van der Walt wat verkluim het.
En tweedens skryf die koerant die federale voorsitter van die DA, Helen Zille het gevra wie die ANC beheer – Cyril Ramaphosa of Panyaza Lesufi.
# En Cape Times:
Berig ook oor die massamoord in Lusikisiki in die Oos-Kaap waartydens 18 lede van ‘n familie afgemaai is.
En skryf ook oor die jongste deurbraak teen dwelmsmokkelaars by die OR Tambo-lughawe.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-sakekamer het ‘n beroep op die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe gedoen om nie aan die versoek van die Vloeibare Brandstof Groothandelaarsvereniging te voldoen om die metro tydelik van die prysverlaging uit te sluit nie.
En tweedens skryf die koerant die polisie het inwoners versoek om nie persoonlike inligting te deel nie, aangesien Nelson Mandelabaai die meeste versekeringsverwante moorde het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor die groeiende waterprobleme wat eThekwini in die gesig staar.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n dringende aansoek wat deur twee bewaringsgebiede en ‘n tradisionele owerheid oor mynaktiwiteite gebring is, is van die rol geskrap.
En skryf tweedens die Nasionale Behuisingsonderneming se boeke is vir die eerste keer in sewe jaar op datum.