Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Britse multinasionale bank HSBC is die jongste buitelandse bankreus wat besluit het om Suid-Afrika te verlaat. HSBC het aangekondig dat sy kliënte en bankbates en -laste aan FirstRand en Absa oorgedra sal word.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die verwarring onder aanklaers in staatskapingsake oor die getuienis teen die Guptas wat selfs in Den Haag ‘n draai gemaak het en steeds uitlek.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die voormalige burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink sê die enigste rede hoekom die ANC, EFF en ActionSA die mag in die stad oorgeneem het, is om te kom aansit om te eet.
En tweedens skryf die koerant die huis in Linden waarin NP van Wyk Louw oorlede is, is die week gesloop. Daar is na bewering permitte uitgereik vir die sloping terwyl die FAK nie vooraf ingelig is nie.
# The Star & Pretoria News:
Berig Gauteng is op die rand van finansiële ineenstorting.
En skryf die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane hou steeds vol sy is nie aandadig aan enige misdadige optrede nie.
# Sowetan:
Berig die Metropolisie-akademie in Tshwane is in ‘n haglike toestand. Daar is stukkende deure, geen beligting, warm water of skoonmaakmiddels nie. Dit terwyl die departement nagenoeg 300-miljioen-rand in boetes insamel.
# En The Citizen:
Skryf die uitstemming van die DA-burgemeester in Tshwane dui volgens kenners daarop dat die nasionale gevoel van eenheid nie strek tot op plaaslike vlak nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig luidens ‘n verslag wat saamgestel is oor die busongeluk waarin ses leerders van die Hoërskool Riebeeckstad omgekom het, het twee wiele van die bus glo losgekom.
En tweedens skryf die koerant oor die egpaar van Odendaalsrus wat naas dieremishandeling nou ook van die verkragting van ‘n minderjarige familielid aangekla word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die nuus dat die 30-jarige Alize van der Merwe wat verlede week in Port St. Johns ontvoer is, is ná ‘n skietgeveg met die polisie naby Qumbu saam met nog ‘n vrou vrygelaat is. Geen losprys is betaal nie en verdere besonderhede is nie bekend nie.
En tweedens word berig vier mense is beseer toe die remme van ‘n gholfkarretjie by Pinnacle Point naby Mosselbaai onklaar geraak het.
# En Cape Times:
Skryf minister Thembi Simelane het ontken dat Justisie die Zondo-getuienis van die NVG weerhou.
En berig nog brandstofpryfverlagings sal vroeg in Oktober ingestel word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n sakeman van Johannesburg het Gqeberha op sosiale media gekritiseer vir die gebrek aan beskerming vir toeriste in die stad. Die man is op die strandfront aangeval en beroof.
En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaapse LUR vir Finansies stel ondersoek in na die finansiële bestuur van die Sondagsrivier-munisiplaiteit.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die enigste oorlewende van ‘n gesin van ses wat deur ‘n familielid vermoor is, sê die moordenaar kan wat hom betref in die tronk verrot.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die jongste syfers dui op 12-duisend-286 malariagevalle en 28 malariaverwante sterftes. Dit is in skrille kontras met verlede jaar toe net 287 mense in hospitale opgeneem en ses mense gesterf het.
En tweedens skryf die koerant die Namibië Islamitiese Halaal-vereniging het akkreditasie van die Emirate Internasionale Akkreditasiesentrum ontvang.