Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die JSE se alle aandele-indeks het gister op ‘n rekordhoogtepunt gesluit toe aansporing uit China en verlede week se repokoersverlaging geld laat terugvloei het na die aandelemark.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Landbou, John Steenhuisen se omstrede stafhoof, Roman Cabanac weier om te bedank voordat die proses nie deur die departement se menslike hulpbronafdeling aan hom verduidelik is nie.
Dan skryf die koerant, Christoff Becker wat berugtheid verwerf het as een van die destydse Waterkloof 4 is in Kaapstad van dronkbestuur en omkopery aangekla.
En laastens is daar nuus oor Eben Etzebeth wat uitsien na sy rekord 128ste toetswedstryd.
# The Star & Pretoria News:
Skryf oor ‘n man wat met ‘n miljoen-rand se sogenaamde vel-bleikroom vasgetrek is.
En berig tweedens die regering gaan nou ingryp by die vermeende rasse-oorlog in Hartbeespoort se sakegemeenskap.
# Sowetan:
Berig oor die brand wat die Boardwalk Urban Village in Midrand in puin gelê het. Die bure sê die eienaar van die woonstel waar die brand begin het, was in ’n hewige argument met sy lewensmaat betrokke. Die liggaam van ‘n vrou is in die puin gevind
# En The Citizen:
Skryf as gevolg van die verouderde waterinfrastruktuur in Gauteng wag daar baie probleme op inwoners indien die regering nie nou al watergebruik beperk nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met Cabanac se besluit om nie te bedank nie.
Dan skryf die koerant basiese onderwys in Suid-Afrika staan voor ‘n geldkrisis en indien die regering nie die departement behoorlik befonds nie, gaan provinsies teen 2027 nie hul programme kan uitvoer nie.
En ten slotte word berig die egpaar van Odendaalsrus wat na bewering ‘n hond met messe doodgesteek het, word nou ook aangekla van die verkragting van ‘n negejarige meisie wat aan hulle verwant is. Hulle het na bewering ook die eienaar van die hond aangerand.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die geldkrisis wat die Departement van Basiese Onderwys oor die volgende drie jaar in die gesig staar.
Dan word berig tieners raak al hoe meer bysiende en dit word toegekryf aan die inperking tydens die Covid 19-pandemie.
En laastens skryf die koerant ook oor die klagtes teen Christoff Becker.
# En Cape Times:
Skryf die hoof van die NVG, advokaat Shamila Batohi het ontken dat die owerheid nie die sogenaamde “groot visse” vervolg nie.
En tweedens word ook berig oor die onderwyskrisis.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig verskillende gesondheids- en sekerheidsbedreigings by Nelson Mandelabaai-klinieke het gelei tot ‘n frustrerende dag vir pasiënte. By die Algoapark-kliniek het ‘n man personeel met ‘n geweer gedreig en by Kariega se Rosedale-sentrum is pasiënte van agter veiligheidshekke bedien.
En tweedens skryf die koerant die NSRI se Gqeberha-stasie het ‘n nuwe, moderne buitelandse reddingstuig in besit geneem. Die Rescue 6 kan so ver as 50 seemyl van land af ontplooi word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n diensverskaffer dreig om die eThekwini-munisipaliteit te dagvaar vir ‘n miljard-rand se onbetaalde fakture.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese boubedryf wag sedert 2006 vir die stigting van ’n bouraad om regulasies en standaarde in dié sektor toe te pas.
Tweedens skryf die koerant Namibië se toerismebedryf het in Augustus vanjaar beduidende groei getoon in beide streek- en internasionale besoekers.
En laastens is daar nuus oor een van Namibië se opkomende sterre in die modelwêreld, Esperansa Martins wat op pad is om internasionaal naam te maak.