Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Reserwebank se verlaging van die repokoers met 25 basispunte tot agt-persent is algemeen verwag. Die vernaamste redes vir die stap is die matiging in inflasie oor die afgelope paar maande, ‘n merkbare verbetering in inflasievooruitsigte en die aanvang van ‘n rentekoersverlagingsiklus deur groot sentrale banke in die wêreld.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Het vandag ‘n voedsel-uitgawe. Die koerant ondersoek voedselproduksie, en -verwerking en die handel in Suid-Afrika.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die haglike toestand waarin ministriële huurhuise agtergelaat word nadat die inwoners uittrek. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Mcpherson sê daar is ook gevalle waar die kombuiskaste verwyder is, grafitti teen die mure geverf is en ‘n geval waar ‘n taxi-onderneming uit ‘n huis bedryf is.
En tweedens skryf die koerant oor die Leeus se planne vir hul Curriebeker-eindstryd teen die Haaie op Ellispark môre.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die beskeie verlaging in die rentekoerse word verwelkom.
En berig die EFF-leier, Julius Malema bespot oudminister Pravin Gordhan steeds ná sy afsterwe.
# Sowetan:
Berig Tshwane se aanvanklike versoek om die omstrede tenderpreneur Edwin Sodi op die swartlys te plaas, het misluk omdat noodsaaklike inligting soos ‘n identiteitsnommer ontbreek het. Die burgemeester Cilliers Brink het erken hulle het foute gemaak.
# En The Citizen:
Skryf die regering se planne om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag weer in sy glorie te herstel, is volgens kenners dalk nie moontlik nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Vrystaatse regering kan 40-miljoen-rand verloor deur die aanstelling van New Beginnings om die Excelsior-Tweespruit-pad te herstel. Die maatskappy verander glo gereeld sy naam maar doen geen werk nie.
En tweedens skryf die koerant vier leerders van die Hoërskool Duineveld in Upington is ná ‘n dissiplinêre proses skuldig bevind nadat hulle die k-woord en die n-woord in ‘n wydverspreide TikTok-gesprek gebruik het. Een staar skorsing in die gesig, terwyl drie ander hul laaste waarskuwings ontvang het en professionele berading oor rasseverhoudings moet ondergaan.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die haglike toestand van ministriële huise.
Dan word berig die uitvoerende hoof van Prasa, Hishaam Emeran het die beseerdes van die Paarlse treinongeluk in die hospitaal besoek.
En laastens is daar nuus oor Tupperware wat sy deure gaan sluit.
# En Cape Times:
Skryf die Tesourie sê hy gaan nie betrokke raak by Ithala-bank se lisensieprobleme nie.
En berig oor die uitwerking van die rentekoersverlaging op die verbruiker se sak.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC in die Nelson Mandelabaai-streek hou sy verkiesingskonferensie in Februarie, met drie kandidate wat om die toppos gaan meeding.
En skryf tweedens oor ‘n driejarige meisie van KwaNobuhle wat op haar vermoorde ma se liggaam gelê en haar vasgehou het toe inwoners uiteindelik op die toneel afkom.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oor die hulde aan Pravin Gordhan tydens sy gedenkdiens.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Kabinet het die geleidelike verwydering en beperkings van die veeartsenykordonheining, ook bekend as die Rooilyn, goedgekeur.
Voorts skryf die koerant die Namibiese Teenkorrupsiekommissie het die uitvoerende hoof van Sake- en Intellektuele Eiendomsowerheid gevrywaar van bewerings dat sy daarop aangedring het dat familielede by die agentskap in diens geneem word.
En laastens is daar nuus oor die Grootfontein-skou wat tot môre duur.