Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Augustus 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die Trump-administrasie uitgedaag ten opsigte van die beoogde sanksies teen ANC-lede. Hy sê die regering van nasionale eenheid sal nie opgee om koloniale wanbalanse onder die dwang van die VSA reg te stel nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga is onder toenemende druk oor die besteding van miljoene rand op Suid-Afrikaanse soldate in die DRK waaroor geen rekenskap gegee kan word nie.
Dan skryf die webblad die DA en die Patriotic Alliance is omgekrap oor ‘n podsending van die groep Open Chats waarin bruin mense onder meer van bloedskande beskuldig word. Die minister van Sport, Kuns en Kuluur, Gayton McKenzie sê hy gaan stappe doen teen die groep.
En laastens is daar nuus oor die MK-party se konsepwetsonwerp wat hulle by die Parlement ingedien het. Daarvolgens mag geen privaat besit van grond in die land toegelaat word nie.
GAUTENG:
# The Star:
Berig getuienis in die Alexandra-landdroshof dui daarop dat die omstrede sakeman Katiso “KT” Molefe na bewering betrokke is by onwettige dwelmhandel, en dat die moorde op DJ Sumbody en DJ Vintos gekoppel is aan hierdie onderwêreldse aktiwiteit.
En tweedens skryf die koerant die voormalige voorsitter van die Afrika-Unie Kommissie, Nkosazana DlaminiZuma, het haar teleurstelling en frustrasie uitgespreek oor president Donald Trump se benadering teenoor Afrika en Suid-Afrika.
# Sowetan:
Berig die minister van Finansies het munisipaliteite gewaarsku dat hy hulle geld sal weerhou indien hulle voortgaan met swak finansiële bestuur en verkwistende besteding.
# En The Citizen:
Skryf skole is in gevaar as gevolg van onwettige mynbedrywighede en sommige instellings moes reeds gesluit word. Die grond waarop die skole gebou is, is onbestendig as gevolg van myntonnels en die dolomiet waarop die geboue opgerig is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens Mbalula sê geen ANC-lid word toegelaat om die Kill the Boer-liedjie te sing nie omdat daar geen plek daarvoor is in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie.
Tweedens skryf die koerant die Universiteit Stellenbosch het meer as 200 voorkomende dosisse medikasie aan studente en personeel verskaf nadat ‘n student, Chris Scheffers aan breinvliesontsteking dood is.
En laastens word berig hoewel dit steeds ysig koud is, spog Namakwaland vroeg reeds met sy blommeprag.
OOS-KAAP:
# Daily Despatch in Oos-Londen:
Berig die nasionale regering stuur ‘n spesiale span om die Buffalo City-metro te red.
En skryf tweedens die inwoners wat wooneenhede naby die Oos-Londen-lughawe opgerig het, weier om die grond te ontruim.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is geweldige druk op die brandbestryders van Pietermaritzburg weens gebrekkige infrastruktuur.
En tweedens word berig oor die sogenaamde HOP-huise wat nou te koop aangebied word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Onderwys is besig om strenger kwalifikasievereistes vir junior primêre onderwysposte in te stel.
Dan skryf die koerant die ontwikkeling van die ou binnenshuise swembadterrein by die Mole op Swakopmund word glo vetraag hoewel niemand redes kan verskaf nie.
En laastens word berig die Namibiese Teenkorrupsiekommissie is beskuldig dat hy voortydig teen drie Namcor-beskuldigdes opgetree het.