Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig verbruikersinflasie het vir die derde agtereenvolgende maand verlangsaam en onder die Reserwebank se middelpuntteiken gedaal. Dit gee volgens kenners stukrag vir die Bank om rentekoerse vandag te verlaag.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens begrotingsbesnoeiings begin ook nou die polisie se vermoë belemmer om Suid-Afrika se hemelhoë vlakke van ernstige misdaad, insluitend afpersings, wat krisisvlakke aanneem, doeltreffend te kan beveg. Die koerant skryf die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, het parlementslede hieroor ingelig.
Dan skryf die koerant yskoue weersomstandighede, reën, donderbuie en selfs sneeu word vir die naweek in verskeie dele van die land voorspel. Die Weerdiens sê temperature sal vandag in die suide daal en teen die naweek in die noorde.
En laastens word berig oor die Sasol-sonkraguitdaging wat vanjaar ‘n nuwe roete volg wat groter uitdagings bied vir die ontwerpers van die sonkragaangedrewe-motors en die deelnemers.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die EFF-leier, Julius Malema sê Floyd Shivambu se vertrek uit die party het geen uitwerking gehad nie en die bestuur is steeds verenig.
En berig oor die haglike toestand waarin staatshuise gelaat word wanneer huurders uittrek.
# Sowetan:
Berig Binnelandse Sake en Arbeid het ‘n klopjag uitgevoer by die Tang-restaurant in Sandton. Werkers verdien 600-rand se fooitjies vir ‘n 14-uur-dag maar ontvang geen salaris nie. Ongedokumenteerde werkers en die bestuurder is in hegtenis geneem.
# En The Citizen:
Skryf die advokaat Billy Downer wat die vervolger is in oudpresident Jacob Zuma se saak sê staatskapers moet weet hulle gaan vervolg word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die Kompano-hospitaalkompleks in Welkom. Parlementslede en lede van die Provinsiale Wetgewer het daar besoek afgelê. Die gebou is geplunder en die departementele personeel werk tussen die rotte terwyl die agterste deel van die gebou onwettig beset word.
En tweedens skryf die koerant ook oor die Sasol-sonkraguitdaging.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met nuus oor die treinongeluk in die Paarl waarin 25 mense beseer is. Daar word berig die minister van Vervoer, Barbara Creecy het versoek dat die ondersoek vinnig afgehandel word.
Tweedens word berig die 17-jarige vermeende moordenaar van Deveney Nel van Caledon se ma weier glo om sy regskoste te betaal. Sy borgtogaansoek is teruggetrek en hy gaan as minderjarige vervolg word.
En laastens is daar nuus oor Tretchikoff se Balinese Girl wat vir ses-miljoen-rand verkoop is.
# En Cape Times:
Skryf voedselpryse styg steeds al is verbruikersinflasie besig om te verlangsaam.
En berig ook oor die ondersoek na die treinongeluk in die Paarl.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het weens vandalisme begin om verkeersligte in sommige dele van die stad te vervang met vierrigting-stoppe.
En skryf die land se wolbedryf het ‘n projek van stapel gestuur wat daartoe sal lei dat gemeenskaps- en bestaansboere voordeel trek uit die kennis en ervaring van sake- en landbouleiers.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is ‘n beroep op die regering gedoen om sake-forums te reguleer sodat daar opgetree kan word teen afpersing.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as 10 jaar nadat ’n repatriasieproses tussen Namibië en Botswana begin het, sal ’n groep BaTswanas van Namibiese afkoms môre in die land verwelkom word.
En tweedens skryf die koerant die regering van Japan het sowat nege-miljoen-rand aan die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram in Namibië geskenk om te help met droogtehulp.